
Boere in die besproeiingsgebied Lephalale is ernstig bekommerd oor die toenemende waterbehoefte wat vir die nuwe nywerhede naby Lephalale voorsien word. “Water is nie soos lekkers by ’n Sondagskoolpiekniek waar iemand gou by ’n winkel nog ’n paar pakkies lekkers kan gaan koop as die lekkers opraak nie,” het mnr. Louis Loots, voorsitter van die Mogolrivierbesproeiingsraad (MBR), gesê.
Loots sê boere in dié besproeiingsgebied in Limpopo soek dringend antwoorde van belanghebbendes oor presies hoe die nywerheidsontwikkeling en die waterkwessie by Lephalale hulle gaan raak. Die nywerhede behels twee steenkoolmyne, moontlik drie nuwe kragsentrales van Eskom en ’n brandstofraffinadery van Exxaro en Sasol.
“Die MBR het die belanghebbendes gevra hoe boere vergoed gaan word as die nywerhede die Mogoldam se water só gebruik dat dit die boere benadeel. “Dit kan beteken dat die nywerhede méér as hul toegekende waterkwota gebruik en dat boere hul waterkwotas kan verloor wanneer die dam se inhoud tot minder as 50 % daal. Die belanghebbendes bly in gebreke om die saak met ons te bespreek. Daar is sprake van die bou van ’n tweede pyplyn uit die dam. Die MBR sal graag die onderhandelinge wil afhandel vóór die tweede pyplyn gebou word,” het Loots gesê.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 4 Desember 2009.
27 November 2009