
Die beste jonwyn in Suid-Afrika is Badsberg Wynkelder se natuurlik soet witwyn. Dié kelder van die Goudini-omgewing het meer as 2 000 inskrywings in die SA Jongwyn-toekennings uitgestof om die Generaal Smuts-trofee huis toe te vat.
Badsberg het ook die Pietman Hugo-trofee vir die beste punte met hul vyf beste inskrywings verower. Boland Kelder van die Paarl-omgewing en Constellation Wine SA, die filiaal van die internasionale maatksappy Constellation, het beide twee kampioenwyne elk. Boland se Chenin blanc en Cabernet Sauvignon (gehout) en Constellation se Pinotage (gehout) en Semillon het kampioenskapstrofeë verower.
Die kompetisie het 2 106 inskrywings gelok waarvan 17 wyne as kampioene aangewys is. Daar was 58 klaswenners en 104 jongwyne het goue medaljes, 481 silwer medaljes en 828 brons medaljes losgeslaan.
Op die meegaande foto lag Badsberg se mnre. Henri Swiegers (links), wynmaker, en Willie Burger, keldermeester. Die foto is deur Hugo Lochner geneem.
21 Augustus 2009