
Deelnemers ding mee vir SA Kampioentrofeë in 17 klasse. Witwynklasse sluit Chenin blanc, Sauvignon blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivars, Droë Wit Versnitte, Effe-droë Witwyne en Edellaatoes in. In die klasse vir rooiwyn word trofeë toegeken vir die beste Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivars en Droë Rooi Versnitte. Beoordelaars sal ook die mees uitstaande Port, Dessertwyn en Muskadel aanwys.
Die skou lok jaarliks ongeveer 2 000 wyne wat kompeteer vir die gesogte Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë. Die Generaal Smuts-trofee is die kompetisie se hoogste eerbewys en word toegeken aan die algehele kampioenwyn, terwyl die kelder met die hoogste telling vir vyf verskillende wyne die Pietman Hugo-trofee ontvang.
Spesialispanele, bestaande uit sewe gekwalifiseerde wynbeoordelaars per paneel, beoordeel vanaf 27 tot 31 Julie by die Nederburg-veilingkompleks die jongwyne. Soos gebruiklik, word ’n agste beoordelaar as jongeling-beoordelaar by elke paneel gevoeg om opleiding te ontvang, maar sy/haar punte word nie in berekening gebring nie.
Die nasionale wenners sal by die toekenningsgeleentheid op 21 Augustus vereer word. Die geleentheid word deur die Oranje-Vaal-wynstreek aangebied by die e Augrabies-valle naby Upington.
Vanjaar se inskrywings sluit op 24 Junie by streekswynkouverenigings en op 9 Julie by die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV). Die SA Jongwynskou-katalogus en inskrywingsvorm is op die webtuiste beskikbaar. Volg die SA Jongwynskou op Facebook, Twitter (www.twitter.com/SAYoungWine) en Google+ om op hoogte te bly van die jongste nuus. Gebruik die hutsmerk #sayoungwine en neem deel aan die gesprek.