
Dié organisasie het die kompetisie genaamd Stoofstories: Dié Koeksister Kompetisie van stapel gestuur en nooi bakkers van regoor die land om in te skryf. Me. Anél du Preez, projekbestuurder by die organisasie, sê in ’n mediaverklaring dat die doel van die projek tweedelig is. Eerstens word die beste koeksisterbakker in die land bekroon, en tweedens word die wenresep as deel van ’n werkskeppingprojek benut waarby die bakker en behoeftiges sal baat vind.
“Koeksisters vorm ’n belangrike deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur en is as’t ware met ons harte vervleg. As mens dink aan eg Suid-Afrikaanse kookkuns is koeksisters beslis een van die eerste dinge waaraan jy dink. Watter beter manier om dan die tradisie te vier as met dié kompetisie? Daarom soek ons nou na die koeksister wat jou tong verras en die tong laat klap van lekkerte,” verduidelik Du Preez.
Die stories agter die koeksister, asook verhale, staaltjies en selfs gerugte oor koeksisters word ook ingewag. “Daar is talle stories oor koeksisters – die manier waarop die geheime resep behoue gebly het, hoe die resep die Groot Trek oorleef het, of hoe die resep ontdek is – en dié stories moet vertel word,” sê Du Preez.
Inskrywings sluit op 31 Mei waarna steeksuitdunrondtes regoor Suid-Afrika gehou sal word. Die finaal sal in September in Pretoria aangebied word. Besoek die webwerf vir meer inligting oor die kompetisie, reëls en om in te skryf.