
Dié twee wyne het meedgeding teen 20 ander inskrywings en is albei met ‘’n Platinum-toekenning vereer.
Wonderfontein-wynlandgoed buite Robertson maak sedert 1884 wyn en die Marais-familie boer reeds vir vyf generasies op die landgoed. “Ons is baie verbaas dat ons wit muskadel gewen het, ons het ’n dubbelgoud gekry vir ons rooi muskadel by Veritas. Dit is wonderlik om te weet ons wit muskadel is ook op koers,” sê mnr. Stefan Bruwer, wynmaker by Wonderfontein.
Oranjerivier-wynkelder word al geken as konstante presteerder tydens wynkompetisies, veral in die gefortifeerde afdeling en dié jaar is geen uitsondering nie. “Ek dink ons muskadel is so gewild omdat ons gehalte deurentyd konstant bly. Ons kry druiwe van verskillende produsente uit die omgewing, dus kan ons die wyne versnit tot ons tevrede is,” sê mnr. Rianco van Rooyen, senior wynmaker by die kelder. Van Rooyen sê ook dat hulle bly is om te sien dat hulle nuwe verpakking vrugte afwerp. “Ons het geweet ons kwaliteit is goed, maar ons wil hê die verbruiker moet ons vinniger kan uitken en opspoor op die rakke,” meen van Rooyen.
Ander wenners
Die Breederiviervallei het ’n string goue toekennings verower. Die wenners is: De Wet Cellar Wit Muskadel 2013, Bon Courage Red Muscadel 2014, Mooiuitsig Oude Rust Red Muscadel 2014 asook Montagu Winery Red Muscadel 2014.
Nog ’n goue toekenning vir die Noord-Kaap is Landzicht Rooi Muskadel 2014, besit deur GWK-wyne en geleë in Douglas. Die Boplaas Heritage White Muscadel 2011 van Calitzdorp in die Klein-Karoo het ook ’n goud huis toe geneem.
Mnr. Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA, is baie tevrede met die uitslae. “Ons einddoel is om die beeld van Muskadel in Suid-Afrika te bevorder en ek glo ons is op die regte pad,” meen hy.
Beoordeling
Die wyne is blind geproe en volgens ’n welbeproefde puntestelsel beoordeel. Die uniekheid van die verpakking speel ook ’n rol in die puntetoekenning. Die wenwyne kan in winkels uitgeken word aan die Muskadel SA-plakker wat op die bottel aangebring word. Enartis SA borg al vir die afgelope agt jaar die toekennings.