
Die Groter Cederberg Brandbeskermingsvereniging (GCBBV) tesame met CapeNature, die Wes-Kaapse Provinsiale Rampbestuur en Weskus-distriksmunisipaliteit, fokus tans sterk op klein plaasgemeenskappe vanwaar talle wegholveldbrande ontstaan en versprei.
Wupperthal, Algeria, Elandskloof en die Sandveld is as hoë risiko streke identifiseer. “In die verlede is ons na talle brande ontbied wat deur skoolkinders gestig is gedurende skoolvakansies,” sê mnr. Bertus Senekal, Brandweerhoof van Weskus-distriksmunisipaliteit en nuut verkose voorsitter van die GCBBV. “Weens gebrekkige kennis onder sulke gemeenskappe versprei ’n klein vuurtjie baie vinnig en raak dan gou buite beheer.”
Die span besoek talle skole en loots ook deur-tot-deur-bewusmakingsveldtogte wat teikengemeenskappe inlig oor brandgevare en hoe om te reageer wanneer ’n brand wel sou uitbreek. In die Sandveld, waar 'n hoë brandgevaar en gebrekkige BBV-lidmaatskap ’n groot rede tot kommer bly, word gemeenskappe in formele vergaderings aangespreek.
Vir die Suid-Kaapse Brandbeskermingsvereniging is beplanning ’n deurganse fokale punt en hierdie jaar is geen uitsondering nie. In samewerking met Eden Rampbestuur en die Brandweerdiens beplan dié BBV om ’n uitgebreide wegholveldbrand te simuleer – uniek tot alle vorige pogings.
Teoreties sal die veldbrand beide ’n dorp en plantasie gelyktydig bedreig, uitgestrek oor ’n paar dae - nie net die gebruiklike paar ure soos die geval is met ander veldbrandsimulerings nie. Daar sal gevolglik veelvuldige aspekte wees wat komplekse besluitneming sal verg.
Ben Potgieter van die Sentrum vir die Modernisering van Bosbou Operasies (CMO) sal die gebeurtenis lei, met die oog daarop om koordinasie en samewerking tussen rolspelers tydens ’n wegholveldbrand te verbeter, en ook om die Insidentbeheer-stelsel (ICS) ’n oefenlopie te gee, sodat almal gereed sal wees indien so 'n brand ooit sou uitbreek.
Multi-agentskap koördinasie is kern tot die sukses van rampbestryding. Hierdie simulering berei Suid-Kaapse brandbestuursagentskappe voor daarop om gereed te wees vir die uitdagings wat met die brandseisoen gepaard gaan.