Boere moet inderhaas stabiliteit in hul boerderye bereik deur inligting doeltreffend te bestuur voordat die eise van globalisering en die rampspoed wat vigs vorentoe vir die landbou gaan hê, die land met alle mag tref.
Dr. Jan du Plessis, bekende raadgewer oor strategiese intelligensie, het op 'n Omnia-boeredag op Bothaville gesê 'n nuwe wêreld, wat vir Suid-Afrikaners heeltemal vreemd sal lyk, lê voor.
Volgens hom is die eerste tien jaar van demokrasie deur 'n stryd vir die ideologiese en die politieke mag gekenmerk. Nou verskuif die klem na swart bemagtiging, wat die landbou intens raak.
Tot dusver het die Regering nie self kundigheid gebou het nie. Die uitwerking van mense wat aan vigs sterf vererger die toestand, want die helfte van die bevolking is arm en ongeletterd en 41 % is werkloos. Dit skep 'n tekort aan kundiges. Hierdie tekort sal vergroot namate meer mense aan vigs sterf. In Suid-Afrika het die lewensverwagting reeds van 68 jaar tot 42 jaar gedaal. Altesame 80 % van die opkomende landbou word deur vroue gedryf. Hulle dra hul kundigheid na hul dogters oor, maar 60 % van die dogters het vigs. Jong mense van 15 tot 29 jaar is die groep met die hoogste voorkoms van vigs. Dit sal die landbou se vermoë raak om te produseer.
Du Plessis het gesê grond is nie meer rykdom nie. "Dit is nou eerder inligting, want sonder inligting beteken grond niks nie. Die Europese Unie gaan vorentoe toenemend aan Suid-Afrikaanse boere voorskryf wat hulle vir dié uitvoermark moet produseer. As boere dit nie aanvaar en inligting reg gebruik nie, sal hulle tweede kom.
"Teen 2010 gaan daar nie veel van die Suid-Afrikaanse landbou oor wees sonder kundigheid nie. Die klem sal dus eerder op vermoëns as grond val," het hy gesê. Boere sal hul tegnologiese vermoë en kundigheid dus reg moet bestuur.
"Ongelukkig bestee die Regering te min geld aan navorsing en ontwikkeling, gemeet teenoor Europa en Amerika. Dit kan dus gebeur dat Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte aan gehalte tekort skiet.
"Om te kan oorleef, moet die boer inderhaas sorg dat hy weet hoe om tegnologie te bestuur en stabiliteit bereik om internasionaal te kan meeding. Hulle het nie vyf jaar oor om dit te doen nie. Daar is kwalik 18 maande om seker te maak hulle oorleef."
27 Augustus 2004