
Alle organisasies het mense – mensehulpbronne. Dit is noodsaaklik om hul vaardighede en werksverrigting te bestuur, ongeag of dit ‘n klein besigheid of ‘n baie groot entiteit is.
Werf A-lys-spelers:
Werknemers is die hartklop van jou besigheid. As jy ‘n gehalte-maatskappy wil bestuur, moet jy gehalte-mense in diens neem. As jy van die begin af gehalte-mense in jou maatskappy opneem, sal dit die pas aangee en dinge in die regte rigting laat beweeg. Dit is waarom die indiensnemingsproses tyd, moeite en deeglike oorweging verdien
Om gehalte-mense in diens te neem, moet jy verseker dat gehalte-mense aansoek doen. Om hulle te lok moet jy bemarking doen, wat op soortgelyke wyse geskied as bemarking aan kliënte. Beklemtoon die aspekte van jou maatskappy waarop jy trots is. Vind maniere om voornemende werknemers te laat weet dat jou maatskappy uitblink in wat dit doen. Mense wil vir ‘n hoëgehalte-maatskappy werk. Laat weet hulle dus hoe wonderlik jy is.
Behou goeie werknemers:
Om goeie werknemers in jou besigheid in te bring is net die begin. Om hulle te behou is net so belangrik.
Werknemerbehoud val basies in twee kategorieë: Monitêr en nie-monitêr. As enige van jou gehalte-werknemers na groener weivelde wil beweeg, is dit dalk nodig om hulle meer te betaal om aan te bly. Om goeie werknemers te behou, moet jy hulle egter meer as ordentlike salarisse en voordele bied.
Baie werknemers is op soek na meer as net geld. Hier is ‘n paar voorbeelde:
Prestasiemetings:
Om goed te vaar in hul werk, het werknemers ‘n akkurate posbeskrywing en jaarlikse hersiening nodig om hulle te laat weet hoe hulle presteer en wat hulle kan doen om te verbeter. Hulle het ook toegang tot ‘n werknemershandleiding nodig sodat hulle die verwagtinge van die organisasie kan verstaan.
Geleentheid:
As werknemers tekens toon dat hulle gereed is daarvoor, vertrou nuwe take en groter verantwoordelikhede aan hulle toe om hulle aangespoor en betrokke te hou.
Buigbaarheid:
Praat met werknemers en vind uit watter stappe jy kan neem om hul lewens beter en makliker te maak. As daar sekere take is waarvoor ‘n werknemer nie op kantoor hoef te wees nie, laat hulle toe om somtyds van die huis af te werk. Soms is dit iets so eenvoudigs soos om werknemers hul eie skedule te laat uitwerk. As die werk nie gekoppel is aan ‘n spesifieke dag of tyd nie, laat werknemers toe om te werk wanneer dit vir hulle die gerieflikste is, so lank hulle steeds dieselfde hoeveelheid werk verrig.
Erken goeie werk:
Wanneer ‘n dag glad verloop het, vertel jou werknemers dat hulle hul goed van hul taak gekwyt het – en bedoel dit. Wanneer invorderings goed is, laat die rekeninge-afdeling weet dat jy dit waardeer. Wanneer jy ‘n groter onderneming het, oorweeg dit om ‘n Werknemer van die Maand-toekenning te hê, genomineer deur mede-werkers en bekendgemaak aan alle werknemers. Enige prys sal groter waarde kry wanneer die baas die tyd neem om dit persoonlik af te gee.
Verlof:
Werknemers het ‘n lewe buite die werk; lewens wat vir hulle baie belangrik is, so moenie die mag van ekstra tyd af onderskat nie.
‘n Aantreklike, ontspanne werksomgewing:
Baie werknemers soek net ‘n werksomgewing waar hulle gemaklik voel, nie gespanne nie. ‘n Onaangename werksomgewing kan enige werknemer noop om te bedank. Maak die fisiese omgewing helder en opgewek. Gee werknemers vrye teëls om hul opinies te lug en ‘n bietjie pret te hê. Werknemers wat daarteen opsien om werk toe te gaan, bly gewoonlik nie lank nie. Hulle is ook nie naastenby so produktief soos gelukkige werknemers nie. Hou dus die kommunikasielyne oop en skoon sodat jy die werksplek ‘n genotvolle plek vir almal kan maak.
Werknemeropleiding en ontwikkeling:
Dit is jou verantwoordelikheid as eienaar van die besigheid. Dit is bestuur se verantwoordelikheid om die regte hulpbronne en omgewing te verskaf wat die groei- en ontwikkelingsbehoeftes van die werknemer ondersteun.
Vir werknemeropleiding en –ontwikkeling om suksesvol te wees, moet jy met ‘n omvattende en goed uiteengesette posbeskrywing begin. Dit is die grondslag waarop alle werknemeropleiding en –ontwikkelingsaktiwiteite gebou moet word. Dit sal jou in staat stel om opleiding te verskaf wat die werknemer nodig het om aan die basiese vaardighede vir hul werk te voldoen.
Om dit te doen, moet jy ‘n goeie begrip van die kennis, vaardighede en vermoëns hê wat jou onderneming nou en in die toekoms nodig het. Wat is die langtermyndoelwitte van die organisasie en wat is die implikasies van hierdie doelwitte vir werknemerontwikkeling?
Deel hierdie kennis met personeel. Moedig jou span aan om op die uitkyk te wees vir geleenthede om te leer in hul daaglikse aktiwiteite. Verduidelik die werknemerontwikkelingsproses en moedig personeel aan om individuele ontwikkelingsplanne te ontwikkel. Baie belangrik: Bied ondersteuning aan jou personeel wanneer hulle leeraktiwiteite identifiseer wat hulle ‘n aanwins vir jou organisasie sal maak.
* Besoek Standard Bank se BizConnect vir meer inligting.
Kopiereg Standard Bank. Alle regte voorbehou.