Suid-Afrikaanse wol móét weer dringend bevorder word en die geld daarvoor sal uit die Woltrust moet kom. Dit is sinneloos om só 'n trust te hê en plaaslike wol nie bevorder nie, want dan gaan daar nie meer oor 'n dekade of twee 'n wolbedryf wees om te bevorder nie.
Mnr. Petrus de Wet, nasionale voorsitter van die NWKV, het op die Wes-Kaapse jaarvergadering van die NWKV op Malmesbury gesê die advertering van Suid-Afrikaanse wol is laas in 1996 behoorlik gedoen. Die Australiese wolbedryf het oral in Europa en China kantore om hul wol te bevorder, terwyl Suid-Afrika geen aksies in dié lande aan die gang het nie.
Hy meen dit is hoog tyd dat die Suid-Afrikaanse wolbedryf sy kliënte, veral in Europa, beter bedien. Daar is sowat R130 miljoen in die Woltrust beskikbaar.
Die plaaslike wolbedryf is sowat een tiende so groot soos dié van Australië. Dit sal bitter moeilik gaan om die plaaslike wolprys hoër te kry. Australië se groot wolbedryf is die prysbepaler.
Oral in Europa, Engeland en Australië is wolklere volop in winkels te koop. Dit word goed geadverteer en dit is duidelik dat die Australiërs trots is op hul produk. Volgens De Wet is min wolprodukte in Suid-Afrikanse winkels beskikbaar, maar wel heelwat minderwaardige Chinese en Taiwannese produkte.
Tekstielverwerking brei redelik baie uit in Italië. Dié land produseer 40 % van die wêreld se tekstielprodukte en 60 % van Europa s'n. Afgesien van China is Italië die enigste land waar tekstielverwerking beduidend toeneem, sê De Wet.
Hy meen Australië "veg 'n oorlog" teen wol uit Suid-Afrika, Suid-Amerika en Nieu-Seeland. Australië doen heelwat moeite om te wys dat sy wol die beste ter wêreld is.
Suid-Afrikaanse wol word veral in Europa hoog aangeskryf, sê De Wet. Die Tsjeggiese Republiek verbruik 25 % van Suid-Afrika se uitgevoerde wol, Italië 21 %, Duitsland 17 %, Frankryk 13 % en Brittanje 5 %. Die res van die wêreld verbruik saam sowat 16 % van die uitgevoerde Suid-Afrikaanse skeersel. In Italië word lank reeds 'n mengsel van 60 % Suid-Afrikaanse wol en 40 % Australiese wol in die kleremaakbedryf gebruik.
Volgens De Wet is nog iets wat dringend aandag moet kry, die verpakking van wol. "Suid-Afrika is die enigste land wat nog poli-etileensakke gebruik, terwyl die res van die wêreld reeds oorgeskakel het na nylon. Weens die besoedelingsprobleme sal dit waarskynlik eersdaags verpligtend gemaak word dat alle wol net in nylon verpak mag word," het De Wet gesê.
31 Maart 2006