Die Wes-Kaap se jeug toon hernieude belangstelling in die landbou. Dié verblydende neiging gaan nie ongesiens verby nie en is een van die fokuspunte op vanjaar se Bien Donné-ekspo wat van 2 tot 4 November op dié pragtige plaas tussen die Paarl en Franschhoek gehou word.
Afgesien van jong mense se rol in die landbou en die groeiende aantal rigtings waarin gespesialiseer kan word, word ook op faktore gefokus wat 'n belangrike rol in die landbou speel, soos die opleiding van plaaswerkers, interessante navorsing in die vrugte- en wynbedryf, swart ekonomiese bemagtiging en die bestryding van MIV/vigs.
Meer as 200 ondernemings word op vanjaar se uitstalling betrek. Dit gaan na verwagting een van die grootstes wees sedert dit in 1942 deur Infruitec-Nietvoorbij, die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, begin is. Die ekspo het sy dubbele status as die oudste en een van die gewildste landbouskoue in die land te danke aan die hoë gehalte en groot verskeidenheid uitstallings, asook aan die feit dat dit 'n uitstalling vir die hele gesin is.
Aanloklikhede sluit in die daaglikse demonstrasies wat deur bekendes, soos die Nutsman, aangebied gaan word. Boonop kan daar uitgesien word na 'n plaasmark met boegoe, olywe, olyfolie, biltong en 'n daaglikse varsproduktemark.
Tussendeur kan besoekers eet, drink en gesellig kuier onder skaduryke priële terwyl die kleingoed na hartelus baljaar in die geselskap van hul gunsteling plaasdiere in die Kinder Speelhoekie.
Twee vroue-oggende op 2 en 4 November is deel van die verrigtinge. Gaste sal vermaak word deur Charlene Truter van Pasella-faam, 'n modeparade met skeppings deur Liezel King en mooi-maaksessies deur Elizabeth Arden-konsultante. Landbouweekblad se vroueredakteur, Simona Sharp, sal besoekers meer vertel oor dié publikasie se vroue-entrepreneur van die jaar kompetisie. Toegangskaartjies sluit 'n vonkelwynontbyt in en kan vooraf bespreek word teen R100 per persoon.
Die hekke sal van 10:00 tot 18:00 oop wees op 2 en 3 November en van 08:00 tot 16:00 op 4 November. Kaartjies teen R30 vir volwassenes en R10 vir kinders sal by die hekke beskikbaar wees. Kaartjies vir plaaswerkers kan vooraf bespreek word teen 'n afslagtarief van R15.
Vir verdere inligting besoek www.biendonne-expo.co.za of bel me. Elma Brand by tel. 021 863 0397, sel 082 808 1114 of e-pos: events@definitelydifferent.co.za..
21 Julie 2006