Suid-Afrikaanse wynbedryf het té behep geraak moet uitvoer. In die proses het hy sy grootste mark, die binnelandse mark, verwaarloos, het mnr. Johan Krige van Kanonkop-wynlandgoed naby Stellenbosch op Somerset-Wes gesê.
Volgens hom is die verkeerde stappe op die verkeerde tyd in die waardeketting gedoen.
Krige het op 'n werksessie van die SA Wingerd- en Wynvereniging (SAWWV) gesê almal het in die Mandela-tydperk (ná 1994) begin om wyn uit te voer sonder om werklik na die plaaslike wynmark se belange om te sien.
Toe die "Madiba magic" begin vervaag en die rand se waarde sowat agt jaar gelede begin daal, is die volle implikasie daarvan nie betyds besef nie. Heelwat van die swakker wynprodusente het derhalwe gesneuwel. Dinge het verder verkeerd geloop deurdat wingerdbouers en -navorsers nie genoeg blootstelling aan die globale mark gekry het nie.
"Wie weet byvoorbeeld watter wyn drink die Amerikaners of die Nederlanders die graagste? Watter wyn verkies die jappies? Dié inligting is beskikbaar, maar nie genoeg waarde word daaraan geheg nie," het hy gesê.
Krige sê in die proses het die wynbedryf sy grootste mark agterweë gelaat, naamlik die enorme binnelandse wynmark — 'n braakland wat lê om ontgin te word. "Dit word amptelik beraam dat die Suid-Afrikaanse verbruik van wyn agt liter per kop is. Swart mense drink egter min wyn omdat te veel 'snob'-waarde daaraan toegedig word. Dit beteken die verbruik van wyn onder werklike wyndrinkers is eintlik nader aan 42 liter per kop."
Krige sê daar moet innoverend opgetree word in die toekoms oor die hele waardeketting van wyn — vanaf die produsent, verpakking, en bemarking tot die smaak en prys van wyn vir die verbruiker aanvaarbaar is.
2 Desember 2005