'n Reuse pyplyn wat brandstof van Mosambiek na Suid-Afrika sal bring, kan 'n deurslaggewende rol speel om biobrandstof van Mosambiek na Suid-Afrika uit te voer. Dit kan Suid-Afrikaanse boere se aandeel in die biobrandstof-koek nóg kleiner maak.
Mnr. Eugenio Silvo, bestuurder van nuwesake-ontwikkeling by Petromoc (Mosambiek se grootste brandstofmaatskappy), sê bouwerk aan die pyplyn begin in Augustus. Dit sal brandstof oor sowat 450 km van Maputo na Kendal op die oostelike Hoëveld en vandaar na Waltloo, buite Pretoria, vervoer. Mosambiek se eie behoefte aan biobrandstof is sowat 100 000 kubieke meter per jaar en die res wat vervaardig word, sal vir uitvoer wees.
Hy het op die Afrika Biobrandstofkonferensie in Midrand gesê die pyplyn sal sowat 3,5 miljoen kubieke meter brandstof per jaar kan vervoer.
Hy het op die konferensie gesê biobrandstof is 'n groot geleentheid vir landbou-ontwikkeling in lande soos Mosambiek. "Daar is 36 miljoen ha bewerkbare grond in die land waarvan net 6 % benut word — en dit ook nie eers doeltreffend nie. As dit behoorlik benut word, is die 6 % voldoende om die bevolking te voed en kos uit te voer."
Landbouweekblad, 21 Maart 2008