
BKB het bevestig dat hy ‘n regstreekse aanbod aan die aandeelhouers van SA Mohair Brokers (SAMB), die moedermaatskappy van CMW gaan maak. Die aanbod van R2 per aandeel is daarop gemik om BKB in ‘n posisie te plaas waar hy met alle partye oor voorgenome oorname van CMW deur OVK kan onderhandel.
OVK het verlede week in ‘n omsendskrywe aan aandeelhouers van SAMB wat 66% van CMW besit, die netto batewaarde van CMW op sowat R36,9 miljoen bereken. Mnr. Chris Louw, die voorsitter van BKB se direksie, sê sy maatskappy se toetrede tot die stryd om SAMB-aandele te bekom, het ten doel om die Burmanweg-pakhuis (waarin CMW tans gehuisves word) in die hande van die sybokhaarbedryf terug te plaas.
“Sou die poging suksesvol wees, sal die pakhuis aan die Sybokhaar-trust aangebied word en ander bokhaarmakelaars die reg hê om ruimte van die nuwe eienaars te huur. BKB onderneem om dadelik die bokhaar wat hy tans hanteer, na die pakhuis te verskuif.”
Louw sê indien BKB se aanbod suksesvol is, dit ‘n stap in die rigting sal wees om beide die hantering van sybokhaar en wol te sentraliseer. “Kostebesparings in die voorsieningsketting sal dan met erns nagestreef kan word.”
18 November 2009