
Sowat 215 belangstellendes in die Karoo en Noord-Kaapland het op die afgelope Voermol-boeredae by die voermaatskappy se Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar-projek gebaat.
Mnr. Hendrik van Pletzen, die organiseerder van die projek, sê bestuursinligting van die kompetisie se suksesvolste veeboere is in die distrikte Loxton en Prieska met medeboere gedeel.
Die land se voorste bees- en skaapboer word jaarliks deur verskeie belanghebbendes in die landbou, met die samewerking van die georganiseerde landbou, vereer deur die aanwysing van die Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar.
Volgens Van Pletzen het die ongekende droogtetoestande van 2012/13 die bestuursvernuf van die veeboer tot die uiterste beproef. “Onder hierdie toestande het die finaliste by uitnemendheid getoon dat hulle ten spyte van uiterste ekonomiese en klimaatstoestande steeds volhoubare diereproduksie kon handhaaf. Met spesifieke bestuurstrategieë stel dit hulle in staat om aanpassings te maak en sodoende saam met die natuur winsgewend te boer,” sê hy.
Die inligtingsdae is op die plase Kasteel van mnre. Dries Wiese van Loxton en Lowerland van Hennie Coetzee van Prieska gehou.
Wiese (Skaapboer van die Jaar) het onder meer sy lamstelsel verduidelik waarvolgens ooie elke ongelyke maand van die jaar gepaar word en dus elke gelyke maand van die jaar lam. Hierdie stelsel hou groot voordele in soos die doeltreffender gebruik van ramme van top-gehalte, die makliker bestuur van ooie met kleiner troppe wat lam, laer risiko vir ongunstige weersomstandighede met lamtyd, minder arbeid en lammers wat regdeur die jaar vir bemarking beskikbaar is. Ooie lam elke tien maande en beter lampersentasies word verkry as waar ooie elke agt maande lam. Hul doelwit is om 150% te speen onder ekstensiewe boerdery-omstandighede met die ooie net op die veld met ’n lae reënval van 175 mm per jaar. Met lamtyd elke twee maande, is daar deurlopend nageboortes op die veld wat as kosbron vir jakkalse dien en gevolglik het hulle minder verliese weens roofdiere.
Mnr. Hennie Coetzee (Beesboer van die Jaar) het in die tradisionele skaapwêreld van Prieska en Niekerkshoop omgewing, ’n beesboerdery in ’n kort tydperk suksesvol gevestig. Sy gemiddelde reënval is 250 mm per jaar en die weikapasiteit van die veld is 18 ha per GVE. Veldproduksie het aansienlik verbeter met ’n rustydperk van 12 maande gevolg deur ’n jaar se intensiewe beweiding. Die teling van aangepaste, hoogs produktiewe diere geniet voorkeur en 'n speenpersentasie van meer as 90 word gehandhaaf. Koeie moet tien kalwers in 12 jaar speen en die mikpunt is om 50% van koeigewig te speen. Vir volhoubare en winsgewende beesboerdery moet optimale kilogramme vleis per ha geproduseer word sonder om die natuurlike hulpbronne te beskadig. Om dit reg te kry, moet met die regte ras of rastipe geboer word wat by die omgewing aangepas is en wat produseer wat die mark vereis.
Byskrif: (kliek op foto) Sprekers tydens die inligtingsdag by die Skaapboer van die Jaar. Van links is mnre. Isak Staats van BKB, Dries Wiese (Skaapboer van die Jaar), Leon de Klerk en Hendrik van Pletzen van Voermol en Jan van Zyl van Eerste Nasionale Bank. Foto: Kenny Crampton.