
Meer as 400 deelnemende Suid-Afrikaanse mielieboere gaan gemiddeld R92 500 elk ontvang nadat hulle versekering uitgeneem het om hulle teen onsekerhede in hul daaglikse bedrywighede te beskerm. Altesame R37 miljoen gaan ingevolge Syngenta se AgriSafe-produk aan hulle oorbetaal word.
Dié produk help glo om boere te verskans teen die onsekerhede weens die wisselende waarde van die rand, inflasie en wisselvallige kommoditeitspryse.
Me. Linda van der Merwe, hoof van kliëntebemarking by Syngenta SA, sê die AgriSafe-konsep is eenvoudig. “Wanneer 'n produsent in Syngenta se AZ-spuitprogram belê, bied die maatskappy 'n gratis verskansing (per tonnemaat) wat berus op die waarde van die transaksie. Syngenta sekureer die dekking ingevolge die Safex-prys vir eerste graad witmielies teen geen koste vir die produsent nie en sonder dat die produsent verplig is om die oes te lewer. Indien die prys met vasstelling laer is as die termynmark-prys, betaal Syngenta die verskil aan die produsent. Indien die prys hoër sluit, geniet die produsent die onbeperkte voordeel van die hoër kommoditeitspryse.”
Die vasstellingsdatum vir die AgriSafe-uitbetaling (bereken op grond van die Safex-prys vir lewering in September vanjaar) was 15 Julie. Die prys op 15 Julie vir die lewering van witmielies in September was R1 800/ton. Vir deelnemende produsente word die verskanste ton bereken ingevolge die waarde van hul oesbeskermingsaankope tydens die mieliegroeityd.
Gestel 'n boer het R700 000 se produkte by Syngenta gekoop en die AgriSafe-prys teen R2 000/ton onderhandel. Die tonnemaat wat verskans is, was dus 350 (R700 000/R2 000 = 350). Die produsent is dus verseker van 350 ton teen R2 000/ton. Die tekort tussen die AgriSafe-prys en die Safex-prys in die betrokke geval was dus R200. Die uitbetaling word dus bereken op 350 ton x R200 = R70 000.