
Dit is nie meer nuus dat Suid-Afrika se boere talentvolle planmakers is nie, hetsy dit is om hul eie werktuie en toerusting te ontwerp en te bou of hul boerderypraktyke aan te pas om winsgewender te boer en krisistye, soos die afgelope jaar se droogte, te oorleef. Dit het Landbouweekblad se gewilde boereplanne-kompetisie oor die jare bewys.
Tog kry hulle dit reg om ’n mens telkens te verras met die oplossings waarmee hulle vorendag kom, soos mnr. Hannes Erasmus, wynboer van Robertson, wat ’n nuwe, eenvoudige wingerd-opleistelsel uitgedink het op ’n vlug van Australië af. Of die fynsaadplanter wat deur Jonathan Fourie, ’n skoolseun van Ermelo, ontwikkel is.
In die tweede uitgawe van Boereplanne is daar weer ’n keur uit die beste planne wat die afgelope jaar of wat in Landbouweekblad verskyn het. Daar is ook leersame artikels oor onder meer hoe om jou werkswinkels te orden en hoe jy jou groot masjiene in stand moet hou om later duur herstelwerk te voorkom.
Die manne wat ou trekkers en werktuie restoureer, vertel van die algemeenste probleme wat hulle ondervind en hoe hulle dit oplos. Hoeveel mense het geweet jy kan Coca-Cola nie net saam met jou brandewyn geniet nie, maar dat dit ook roes se moses is?
In die moderne era aanvaar mense vlieg as alledaags, maar baie mense op die platteland is nog van outydse dikwielfietse vir vervoer afhanklik. Lees hoe talle boere nog fietse in hul boerderye gebruik.
* Kry jou eksemplaar van Boereplanne 2 by jou plaaslike nuusagentskap of kleinhandelaar. Prys: R45,00 op die winkelrak. (Sien die lys van winkels in die aanhangsel hieronder.)
Bestel per e-pos by Johan Terblanche: johan.terblanche@Media24.com