
Boplaas op Calitzdorp in die Klein-Karoo het onlangs weer weggeloop met die Kaapse Portprodusentevereniging se trofee vir die beste gefortifiseerde wyn met die Boplaas Cape Vintage Reserve 2011. Hy het ook die kategorie gewen vir die beste Portugesestyl-tafelwyn met die Boplaas Tinta Barocca 2013.
Mej. Margaux Nel, die wynmaker by Boplaas, skryf hul sukses toe aan jare se ondervinding in die produksie van portstyl-wyn met Portugese kultivars. Die familie het oor die jare baie noue bande met Portugese produsente opgebou om soveel moontlik oor die produksie van die kultivars te leer. Hulle het dit wat hulle oor die jare geleer het, by hul produksie-omstandighede op Calitzdorp aangepas. Die Boplaas Cape Vintage Reserve 2011 bestaan uit sowat 80% Touriga Naçional, rondom 18% Tinta Barocca en die res is Souzao.
Nel sê dat een van die belangrikste beginsels met die produksie van portstyl-wyn is dat jy nie die druiwe te ryp moet pluk nie: “Baie mense dink hoe ryper, hoe beter. Die probleem is dat jou suur en pH dan uit balans kan wees. Ons pluk dus gewoonlik nie later as 26 grade Baling nie, by ’n pH van sowat 5,5 en ’n suur vlak tussen 3,5 en 3,7. Die besluit van wanneer om te pluk sal egter afhang van die produsent se voorkeure en die grond.”
Sy het gespot dat jy nie moet lief wees vir slaap as jy ’n goeie portstyl-wyn wil maak nie, want die wyne het die geneigdheid om gewoonlik twee-uur op ’n Sondag-oggend reg te wees vir fortifisering.
Carel Nel, eienaar van Boplaas, dink dat Suid-Afrikaanse gefortifiseerde wyn goed meeding dit wat in Portugal gemaak word: "Dit is baie duur om gefortifiseerde wyn te maak, aangesien jy dit so lank moet verouder. Die Portugese is dus besig om hulle al hoe meer toe te spits op die produksie van wyn wat nie so lank vat om te vervaardig nie en dus goedkoper is om te produseer."
Ander kategoriewenners by die kompetisie was die Slanghoek Cape Ruby 2013 in die Cape Ruby-afdeling, Boplaas Cape Tawny Vintners Reserve in die Tawny-afdeling, Boplaas Cape Vintage Reserve 2011 in die Cape Vintage-afdeling (wat ook die algehele wenner is), Peter Bayly Cape Vintage 2004 in die Museum-klas en Axe Hill Cape Late-bottled Vintage 2009 wat in die “ander” Cape “Ports”-kategorie gewen het.