
Nie net kan ’n mens in die distrik Chobe, suid van die Zambezirivier, in harmonie met die natuur boer nie, maar dit is veilig en daar is puik regeringshulp en -steun vir boere. Dít bied talle geleenthede.
Die Botswana-regering beplan twee bykomende ontwikkelings in Pandamatenga waarvoor grond, wat nog ontbos moet word, opsy gesit gaan word.
Die een ontwikkeling is bestem vir droëlandproduksie op swart turfgrond, terwyl die ander besproeiingsgrond is op rooi sandgrond wat beter dreineer. Dit is nog onseker wanneer hierdie ontwikkelings gaan begin, maar alle kommersiële persele wat in Botswana beskikbaar raak, word geadverteer.
Pandamatenga val onder die Chobe-landraad. Die landraad is namens die sentrale regering en die Chobe-gemeenskap die bewaarder van grond in die Chobe-gebied. Hulle reik tenders uit wanneer kommersiële persele vir ontwikkeling beskikbaar raak. ’n Spesifieke tender mag net tot landsburgers beperk wees, of dit moet só opgestel word om enige belangstellende individu of onderneming, selfs van die buiteland, in ag te neem.
Grondbesit
Terwyl grond vir verbouing beperk is en huurgrond vining opgeraap word, is daar drie verskillende stelsels van grondbesit in Botswana. Die drie stelsels is volle besit, huurbesit en regeringsbesit. In Pandamatenga word huurpagstelsels gebruik wat oor 50 jaar strek.
Volle besit: Die grond behoort aan die individu of buitelandse belegger wat besitreg daarop het. Die Tuli-blok en Ghanzi is voorbeelde daarvan. Dié grond is deur koningin Victoria van Brittanje toegedeel. Botswana se regering het ná onafhanklikheid besluit om dié reëling in stand te hou en te respekteer.
Huurbesit: Die grond bly die regering se eiendom. ’n Individu huur die grond by die regering vir ’n huurpagperiode van byvoorbeeld 50 jaar, of vir korter periodes van 25 jaar. Besitreg word op die huurbesit geregistreer en kan teen markwaarde verhandel. Die huurbesit, met ’n oorblywende tydperk, kan aan ’n volgende koper oorgedra word. Dus kan finansiering teen ’n geregistreerde huurbesit bekom word.
Elke huurbesit het unieke voorwaardes wat die tydperk en grootte van die grond bepaal. Dit is belangrik om deeglik daarvan kennis te neem omdat ’n verband op sekere huurbesit-eiendomme geregistreer kan word en op ander nie. Die grond in Pandamatenga is alles in huurbesit en ’n verband kan wél daarop geregistreer word.
Bestaansboere se grond onder huurbesit is van 15 ha tot 100 ha groot. Bestaans- en kommersiële boere kan ’n verbandlening uitneem indien besitreg op die huurbesiteiendom geregistreer is. Bestaansboere boer gewoonlik sonder dat die besitreg geregistreer is omdat hulle nie verbandlenings uitneem nie.
Regeringsbesit: Die regering gebruik staatsgrond, byvoorbeeld parke vir natuurbewaring en grond vir militêre doeleindes. Bestaansboere boer nie op staatsgrond nie.
Belegging
Wanneer grond verkoop word, word die titelakte op die huurbesit vir die oorblywende tydperk oorgedra. Die grootte van die verskillende kommersiële bloke in Pandamatenga wissel van 500 ha tot 1 000 ha.
Die landraad ken die huurbesit toe, en dan registreer die aktekantoor die besitreg op die huurbesit. Onontwikkelde landbougrond se huurbesit met besitreg verhandel tans teen 7 miljoen pula (sowat R9,36 miljoen) vir ’n grootte van 500 ha. Sodra die grond reeds ontwikkel en in produksie is, kan die waarde daarvan meer as verdubbel.
Dit bly vir boere ’n goeie belegging omdat die regering goeie pryse vir graansorghum en droëbone aanbied. Sonneblomsaad word na Suid-Afrika en Zimbabwe uitgevoer, terwyl sekere soorte droëbone vir Asië bestem is.
Plaaslike mark
Botswana se landboubemarkingsraad (die regering) bepaal die pryse van graansorghum en droëbone vir die huidige seisoen.
Akkerboonpryse: 14 000 pula per ton (sowat R18 700/ton)
Mungboontjies: $900 per ton (sowat R12 900/ton)
Graansorghum: 2 800 pula per ton (sowat R3 700/ton)
Boere het sitting op hierdie raad. Botswana sluit gereeld die land se grense om sodoende die binnelandse mark vir produsente te beskerm. Benewens hierdie maatreëls moet Botswana egter steeds sorghum uit Suid-Afrika invoer om in sy plaaslike behoeftes te voldoen.
Boere kan nie genoeg sorghum lewer nie omdat droëbone as ’n wisselbougewas verbou moet word. Dit lewer ’n groot bydrae tot die grond se vrugbaarheid.
Versekering
Boere het toegang tot ’n landboukredietwaarborgskema (ACGS) as ’n nasionale ramp, soos droogte, dié land tref en as sulks deur die president in Botswana afgekondig word.
Tot 85% van ’n boer se produksiekoste kan só verhaal word. Die skema is net vir boere wat hul produksie deur die nasionale ontwikkelingsbank (NDB) of entrepreneurskap-ontwikkelingsagentskap vir landburgers (CEDA) laat finansier. CEDA kan vergelyk word met die Suid-Afrikaanse Nywerheidsontwikkelingskorporasie. Boere betaal met die aanvang van die produksietyd ’n jaarlikse premie van 5% aan die regering.
Die skema word deur die NDB geadministreer en die regering dra die ander 5% by. Die totale premie beloop 10%. Die doel van die skema is om boere te verged vir die produksiekoste wat aangegaan is in ’n rampdroogtejaar, ’n vloedjaar, ná hael- of algehele rypskade of iets dergeliks wat tot ’n nasionale ramp verklaar word.
Alle boere in Botswana geniet hierdie bystand. Die oorgrote meerderheid van Botswana se graansorghum (sowat 80%) word in die Pandamatenga-produksiegebied verbou. Dit klink na ’n droom om in Pandamantenga te boer.
- Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid. Mnr. Kgwaneng Selei is ’n verhoudingsbestuurder vir Barclays Bank Agribesigheid in Pandamatenga.