'n Projek deur ontwikkelende boere waarin Bt-mielies, wat teen stronkboorders bestand is, en tradisionele mielies in proefstroke langs mekaar geplant is, het getoon dat die Bt-opbrengs gemiddeld 40,5% hoër was as dié van die tradisionele mielies.
Die projek was daarop gemik om die rol van biotegnologie in ontwikkelende boerdery in die mielieseisoen 2004/05 vas te stel. Altesame 636 opkomende boere, 65 landbou-voorligtingsbeamptes en 21 besluitnemers in ses provinsies is in dié proses oor biotegnologie en die verbouing van Bt-mielies opgelei. Bt-mielies is mielies wat deur middel van biotegnologiese tegnieke geneties gemodifiseer is om bestand teen stronkboorder te wees.
AfricaBio, in samewerking met die National African Farmers' Union (Nafu), die Boere-akademie Buhle by Delmas in Mpumalanga, die Landboukollege Cedara in KwaZulu-Natal en die provinsiale landboudepartemente het die projek in 2004 uitgevoer.
Ses demonstrasiepersele is gekies waar Bt- en tradisionele mielies langs mekaar geplant is. Die stroke het elk uit 1 ha Bt-mielies en 1 ha tradisionele mielies bestaan.
Die wit Bt- en tradisionele mielies is in November en Desember verlede jaar aangeplant en in Junie en Julie vanjaar geoes. Die grootste toename was 60 % en is op Fairdeal, Gauteng, aangeteken. Die kleinste was 27,5 % te Bathurst.
Stamboorder-skade aan die Bt-mielies was gemiddeld 2,1 %, teenoor 18 % by die tradisionele mielies. Die ergste skade is op Cedara — 'n gebied gekenmerk deur ernstige stamboorderaanvalle — teëgekom, naamlik 38,9 %.
"Die projek het ongetwyfeld in al sy doelwitte geslaag," het prof. Jocelyn Webster, uitvoerende direkteur van AfricaBio, gesê. "Honderde kleinboere, voorligtingsbeamptes, besluitnemers, senior regeringsamptenare asook 'n groot aantal mense uit die platteland is nou beter ingelig oor Bt-mielies en die voordele wat dit ten opsigte van voedselsekuriteit in Suider-Afrika bied. Ons sal beslis die projek in die komende seisoen herhaal deur meer proefpersele by te voeg sodat ons meer boere kan bereik."
26 Augustus 2005