Wes-Karoo Koöperasie (WKK), met sy hoofkantoor op Calvinia en KLK, met sy hoofkantoor op Upington, het bekend gemaak dat hulle gaan saamsmelt.
Die samesmelting vind op 28 Februarie plaas en word bewerkstellig deur die verkoop van WKK se onderneming aan die KLK. Die WKK se lede sal die grootste deel van hul belange as 'n krediet op hul handelsrekening ontvang. Die koopprys sal deur die uitreiking van nuwe KLK-aandele vereffen word.
Die WKK se direksie oorweeg al 'n geruime tyd lank om met 'n soortgelyke onderneming saam te smelt om die "uitdagings en geleenthede deur die veranderde besigheidsomgewing suksesvol die hoof te bied".
Na 'n reeks gesprekke met die KLK is eenparig besluit om, onderhewig aan sekere voorwaardes, saam te smelt. Die lede van WKK het op buitengewone vergaderings met 'n groot meerderheid die samesmelting bekragtig.
Die WKK fokus, net soos die KLK, op die vee- en vleishandel, asook die verskaffing van boerderybenodighede en motors en brandstof. Die WKK het handelstakke op Brandvlei, Calvinia en Nieuwoudtville.
Die direksie van KLK glo as die transaksie ten volle in werking gestel is, dit groter finansiële voordele vir bestaande en nuwe aandeelhouers sal inhou. "Hierdie samesmelting moet beter landbou verwante oplossings vir ons produsente in albei gebiede bewerkstellig om lojaliteit te behou met beter diens, goeie pryse en benutting van ons eie kapitaal," lui 'n gesamentlike verklaring.
4 Februarie 2005