
’n Groep van 55 Suid-Afrikaanse byeboere van die Oudtshoorn-omgewing het vandeesmaand met die Suid-Afrikaanse Byebedryfsorganisasie (Sabio) en die Landbounavorsingsraad vergader om die verspreiding van Amerikaanse vuilbroed (jongbysiekte) te bespreek.
“Ons is nie seker hoe ver die besmetting strek nie, maar ons is bekommerd dat die byebedryf in die Klein-Karoo inmekaar sal stort,” sê mnr. James Williams, byeboer. “Dit lyk asof die uitwerking van die siekte onderskat word. Die besmetting versprei en die aantal vrektes kan ’n verwoestende uitwerking hê.”
Williams sê Suid-Afrikaanse bye het geen weerstand teen die siekte nie omdat dit nog nooit voorheen hier voorgekom het nie. Mnr. Dawie Smidt, Sabio-verteenwoordiger, het inligting aan boere verskaf oor die verspreiding van die siekte, inspeksies en toetse wat gedoen gaan word, die uitkenning van kliniese simptome, toekomstige wetgewing en goeie boerderybedrywighede.
Luidens ’n berig in die Herald het Sabio verlede maand maatreëls vir byeboere bekend gestel nadat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gesê het die siekte kan nie uitgewis word nie.
Bron:
8 September 2009