
Die Capespan-groep het ’n bemarkingsbestuursooreenkoms met die nasionale jeugdiens (NYS) van Namibië gesluit om die Namibia Grape Company (NGC), in die suide, as deel van ’n projek vir vaardigheidsoordrag te bestuur.
Die betrokkenes by die projek hoop om met ’n jaarlikse belegging van sowat R2 miljoen aan kapitaalprojekte dié druiweboerdery binne ’n dekade ten volle te ontwikkel.’n Verdere R500 000 sal jaarliks tot ’n maatskaplike ontwikkelingstrust bygedra word om in die behoeftes van die Aussenkehr-gemeenskap en die NGC se werknemers te voorsien.
Capespan Namibië se voorsitter, mnr. John Endjala, sê dat hulle maatskappy se fokus op die groei en verdere ontwikkeling van Namibiese boerderygeleenthede, werkskepping en die inwinning van buitelandse inkomste sal wees.
Capespan Uitvoerders het ook sowat 255 vraghouers binne twee weke met ’n enkele skeepvaartmaatskappy, die MSC (MediterraneanShipping Company), verskeep. Hulle het 105 vraghouers binne een week op die MSC Barbara en 150 vraghouers in die volgende week op die MSC Laura verskeep.
Beide Capespan en MSC beskou dit as ’n unieke prestasie.
Bron:
24 Augustus 2009