
Voorheen benadeelde mense wat grond as deel van Suid-Afrika se grondhervormingsprogram ontvang het, sal nou opleiding kan ontvang in die Capespan-groep se nuwe ontwikkelingsprogram vir leiers. Die Capespan-akademie is met die samewerking van AgriSETA van stapel gestuur.
Laasgenoemde het R4,5 miljoen beskikbaar gestel vir opleiding oor die volgende drie jaar. Die akademie het reeds met proeflopies in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap begin. Tydens sy eerste bestaansjaar sal die akademie plase bedien wat reeds werkers bemagtig en wat deur Capespan Plaasbestuurdienste bestuur word.
Van die akademie, onder leiding van mnr. Abraham Moitse, se doelstellings is om die vaardigheidsgaping tussen bestuur en werkers te verklein, om voorheen benadeelde bestuurders te ontwikkel en om bestaande boere as mentors vir nuwe swart boere op te lei.
Projekte wat onder die vaandel van Capespan se grondhervormingsprogram bestuur word, sal ook die akademie kan gebruik. “Ons beoog om ’n leier op die gebied van menslike hulpbronontwikkeling te word. Capespan sal tot volhoubaarheid in landbougemeenskappe bydra,” sê mnr. Angelo Petersen, Capespan se beampte vir bemagtiging.
21 Julie 2009