
Die Chinese suiwelmaatskappy Yili is vir die eerste keer onder die toptien suiwelmaatskappye in die wêreld.
Volgens die globale voedsel-en-landboubank Rabobank se jongste lys van die toptwintig grootste suiwelmaatskappye is Yili nommer tien. Die ranglys is volgens maatskappye se suiwelomset vir 2013 opgestel.
Yili was verlede jaar 12de en Mengniu, nog 'n Chinese maatskappy, wat verlede jaar 15de was, is vanjaar nommer 14.
Volgens mnr. Tim Hunt, Rabobank-ontleder, het Yili en Mengniu se verkope onderskeidelik met 14% en 20% gegroei.
Nestlé, met sy hoofkantoor in Switserland, en Danone en Lactalis met hul hoofkantore in Frankryk, is soos voorheen weer die drie grootste maatskappye.
Hunt sê in 'n verklaring dit wys hulle is redelik goed verskans. Hy sê in die laaste 18 maande moes suiwelreuse talle uitdagings oorkom weens swak ekonomieë en aanbodbeperkings wat verkoopsgroei in sleutelmarkte beperk het.
“Teen hierdie agtergrond het samesmeltings en verkrygings 'n aantreklike roete geword om groei en winsgewendheid te bewerkstellig.”