
Die suiwelmaatskappy Clover SA is van plan om die 45%-aandeel wat hy in Clover Danone besit, vir sowat R1 miljard aan die Franse maatskappy Groupe Danone te verkoop.
Luidens ‘n berig van Business Day sê mnr. Manie Rhode van Clover SA hulle sal ‘n deel van die geld gebruik om die skuld van sowat R828,2 miljoen wat hulle tans het, te delg.
Die ander deel van die geld sal vir die finansiering van projekte aangewend word. Hy sê Danone wil meer op Afrika fokus en daarvoor het hy meer aandele in dié plaaslike maatskappy nodig. Die transaksie moet egter eers deur die Reserwebank goedgekeur word.
Alle betrokke dokumentasie moet voor die 23ste van vandeesmaand ingehandig word, en die transaksie sal na verwagting teen 1 Januarie volgende jaar afgehandel wees. Intussen word Clover SA en ander maatskappye deur die Mededingingskommissie vir moontlike onmededingende optrede ondersoek.
Die maatskappy het reeds by drie geleenthede aansoek om appèl teen die saak gedoen. In die jongste aansoek het hy homself na die Appèlhof in Bloemfontein gewend, waar die aansoek verwerp is. Hy voel glo dat die saak teen hom op tegniese punte laat vaar moet word. Die ander maatskappye wat deel van die ondersoek vorm, sluit Lancewood, Clover, Parmalat, Ladismith Kaas en Nestlé Suid-Afrika in.
Bron:
11 Desember 2009