CMW gaan nou ook tot die tekstielvervaardigingsbedryf toetree. Dit volg nadat die maatskappy 'n beherende aandeel in die bates en belange van 'n bokhaarverwerkingsaanleg by The Craggs, naby Plettenbergbaai, vir 'n onbekende bedrag geld gekoop het.
Dr. Jan van der Westhuysen, besturende direkteur van CMW, sê sy maatskappy sien die stap as 'n verdere ontwikkeling van sy PureCape-waardetoevoegingskonsep waarmee twee jaar gelede begin is. Dit was uit die staanspoor 'n reusesukses. "Aangesien daar tans geen vervaardiger van wolkomberse in Suid-Afrika is nie en die ervaring wat CMW met sy PureCape-bokhaarkombersreeks behaal het, glo ons dat dit tot voordeel van die bokhaar- en wolbedryf sal wees."
Hy sê waardetoevoeging is reeds jare lank 'n belangrike besprekingspunt in wol- en bokhaarkringe. Aangesien die verwerking daarvan heelwat geld verg, is die winsmarge klein. Die tekstielbedryf is boonop aan groot mededinging van veral China blootgestel en daarom is dit noodsaaklik om eerder op 'n bepaalde nismark te fokus. "Produkte van gehalte en uniekheid in hierdie segment verseker 'n groter winsmarge as wanneer daar in die mark vir die groot volume (massas) meegeding moet word."
Van der Westhuysen sê ontwikkelingswerk om 'n wolkombers van hoë gehalte te vervaardig, is goed op dreef. Die nuwe maatskappy, PureCape Textiles (Edms.) Bpk. met sy hoofkantoor in Port Elizabeth, se produkte sal deur middel van 'n nasionale verkoopsnetwerk vanuit Kaapstad versprei word.
Landbouweekblad het verneem dat dit 'n gunstige transaksie vir CMW was, aangesien hy daarin geslaag het om net die bates en infrastruktuur te bekom. Hoewel CMW die meerderheidsaandeel in die fabriek besit, word aandele ook deur 'n buitelandse belangegroep gehou. Van der Westhuysen wou nie sê wat die koopsom was nie.
22 April 2005