Die deur vir die gebruik van mielies in bio-etanol is nie heeltemal toegemaak nie. "Mielies was nog altyd een van die belangrikste dryfvere vir Suid-Afrikaanse biobrandstof, " het mnr. Andrew Makenete, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Biobrandstofvereniging (Saba), op 'n perskonferensie op 12 Desember in Pretoria gesê.
'n Dag later is 'n vergadering op aandrang van me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, tussen haar, Agri SA, die National African Farmers' Union (Nafu), Graan SA, die Landboubesigheidskamer en Saba gehou.
Die weglating van mielies was vir Saba 'n groot skok aangesien dit sedert die onderhandelings oor biobrandstof met die Regering begin het, nog nooit 'n probleem was nie. "Die enigste leiersfiguur wat ooit genoem het dat hy bekommerd was oor die invloed van biobrandstof mielies op voedselsekuriteit, was mnr. Tito Mboweni (president van die Reserwebank), " het Makenete gesê.
Saba het in 'n dokument aan Mboweni verduidelik dat biobrandstof mielies eerder voedsel sekuriteit sal verseker. ('n Volledige artikel hieroor is in die volgende uitgawe.) Makenete waarsku dat elke land se biobrandstofsituasie in afsondering beskou moet word omdat elke omgewing drasties verskil.
Saba meen die die feit dat biobrandstof slegs 2% van die land se totale biobrandstofbeleid sal uitmaak is nog 'n saak wat weer na gekyk sal moet word. Aanvanklik het Saba aanbeveel dat biobrandstof 'n totaal van 10% van Suid-Afrika se totale brandstofpoel moet uitmaak. Die konsepwet het aangedui dat dit 4,5% biobrandstof sal wees, maar Sonjica het aangekondig dat dit nou slegs 2% daarvan sal uitmaak. Makenete wou weet of dit met of sonder die semistaatsinstellings (wat dan bykans die hele mark sal oorheers) se vervaardiging van biobrandstof is.
"Gaan dit (die persentasie biobrandstof wat vervaardig gaan word) deur lisensiëring beheer word? En hoe werk die verspreiding? Hoe sal 'n provinsie soos die Noord-Kaap byvoorbeeld opweeg teen Gauteng? Dis 'n paar van die vrae wat Makenete in hierdie verband gehad het.
Indringende gesprekke met Xingwana en me. Buyelwa Sonjica, Minister van Minerale en Energie, gaan vandeesmaand gehou word om verder die uitsluiting van mielies vir bio-etanol te bespreek.
"Dinge lyk nou veel beter as net ná die aankondiging van die biobrandstofbeleid deur die Kabinet," het mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, aan Landbouweekblad gesê. Daar is aanduidings dat die besluit oor mielies en ander gewasse wat op droëland verbou word, heroorweeg in die toekoms heroorweeg kan word.
Hy sê die vorige besprekings was deur die kwessie van voedselsekuriteit oorweldig - die rede wat amptelik deur die staat voorgehou word vir die besluit om mielies nie vir biobrandstof te gebruik nie en eerder op suikergewasse te fokus.
"Ons stem saam met Xingwana en meen enige bedreiging van voedselsekuriteit is ongewens. Nogtans kan die gebruik van mielies (vir biobrandstof) eintlik voedselsekuriteit bevoordeel," het Ferreira gesê.
Volgens hom verstaan Xingwana die probleem wat die graan- en oliesadebedryf het met die plafonne waaronder geproduseer word en die invloed van die invoerpariteitspryse. "Dit raak al duideliker dat ons vir onsself moet markte skep. Die res van die wêreld gaan ons nie help nie. Die skep van markte is sentraal om meer voedselsekuriteit te kry" is aan Xingwana verduidelik.
Makenete wil ook weet waarom daar 'n korting van 50 % op die heffing vir biodiesel is, terwyl daar 'n korting van 100 % op heffing vir bio-etanol is. "Ek sou gedink het dat die voordeel vir biodiesel net soveel, indien nie meer moet wees as dié vir bio-etanol, " het Makenete gesê.
Saba is bekommerd oor dinge wat glad nie deur Sonjica in haar aankondiging genoem is nie.
"Die huidige energiekrisis is byvoorbeeld glad nie bespreek nie. Daar is geen verwysing gemaak na klein of medium-ondernemings en hoe hulle voordeel kan trek nie. Wat van opkomende boere?" wou Makenete weet. Die potensiële werksgeleenthede wat geskep kan word, is ook nie genoem nie.
18 Desember 2007