
Die mielie-oes word jaar ná jaar al hoe groter. Die finale skatting van die 2013/’14 oes toon kommersiële mielies van 14,3 miljoen ton en nie-kommersieel van 0,6 miljoen ton. In totaal dus ‘n oes van 14,9 mijoen ton, wat gelyk is aan die laaste rekord-oes van 14,9 miljoen ton in 1980/’81.
In die afgelope 15 jaar het die oes by tien geleenthede die 10 miljoen ton kerf oorskry. (Grafiek 1). Die vraag ontstaan nou of só ‘n groot oes tot voordeel strek van produsente, of nie. Die doel van hierdie artikel is egter nie om produsente in ‘n bepaalde rigting te probeer stuur nie, maar net om struikelblokke en moontlikhede uit te wys.
Invloed op prysEerstens kan ons kyk na die reaksie van die mielieprys op só ‘n groot oes is. Normaalweg neig pryse laer as die oes toeneem. In grafiek 1 hieronder kan gesien word dat die mielie-oes in die eerste agt jaar, van 2000 tot 2007, net by twee geleenthede meer as 10 miljoen ton beloop het. In 2000, met ‘n oes van 11,5 miljoen ton, was die gemiddelde prys R550 per ton. In 2005, met ‘n oes van 11,7 miljoen ton was die gemiddelde prys R636 per ton.
In hierdie tydperk, waar die oes meestal minder as 10 miljoen ton beloop het, was die gemiddelde prysstyging sowat 15% per jaar. In die daarop volgende periode, van 2008 tot 2014, waar die oes in ses van die sewe jare meer as 12 miljoen ton beloop het, was die gemiddelde prysstyging minder as 5% per jaar. Sekerlik nie genoeg om stygende insetkoste te delg nie! Let op dat die laaste drie jaar die prys feitlik onveranderd gebly het! (rooi stafies in grafiek 1). Dit wil voorkom asof die prys in 2014¹ net bo R2000 per ton sal wees.
Moontlike oplossings sluit die volgende in: Produseer minder en dwing die prys hoër. Produseer ander gewasse met ‘n hoër opbrengs in die plek van mielies, of voer die oorskot uit.
Grafiek 1:
Binnelandse produksieOm pryse te verbeter deur minder mielies te plant, moet alle ander faktore wat die oes kan beïnvloed, onveranderd bly. Produsente het inderdaad die afgelope 15 jaar minder mielies geplant en die oppervlakte onder mielies het in dié tyd met 20% afgeneem. Dit het egter nie gewerk nie omdat plantverbetering en verandering in boerderytegnieke die opbrengs per hektaar opgestoot het van sowat 3 ton/ha in 2000 tot meer as 5 ton/ha in 2014. Die grootte van die oes het dus vinniger toegeneem as wat die oppervlakte aangeplant, afgeneem het. Sien grafiek 2 hieronder.
Die oppervlakte onder geel mielies het oor die 15 jaar weinig verander en het gewissel om en by 1,1 miljoen hektaar. Geelmielies word hoofsaaklik (maar nie uitsluitlik nie) in die oostelike dele van die land, soos in Mpumalamga, KwaZulu-Natal en die Oos-Vrystaat geplant. Al die gebiede toon betreklik min verandering in die oppervlakte aangeplant. Die grootte van die oes het egter met ongeveer 65% toegeneem in dié gebiede.
Daarteenoor het die oppervlakte onder wit mielies met meer as 20% afgeneem. Die grootste daling was in Noordwes waar aanplantings afgeneem het van 840 000 hektaar tot 500 000 hektaar. In meeste ander provinsies was die daling gering of feitlik onveranderd. Die oes het egter met sowat 28% toegeneem. Hoewel die oes baie wisseling toon oor die tydperk, was die skerpste styging in die Vrystaat, net meer as 50%. Skerp skommelinge kom in Noordwes voor. Oor die 15 jaar toon produksie in Noordwes ‘n effense daling maar in 2014 het dit met byna 90% toegeneem in vergelyking met die vorige jaar. In alle ander provinsies toon witmielieproduksie ‘n styging.
Opsommend dus het slegs die oppervlakte onder witmielies in Noordwes wesenlik afgeneem maar die oes toon oral ‘n toename.
Grafiek 2:
Ander somergewasseDie grondbone-oes het skerp gedaal die afgelope 15 jaar. (sien geel lyn – grafiek 3). Die oes het afgeneem van meer as 200 000 ton tot 78 000 ton verlede jaar. Die sorghum-oes het ook afgeneem maar het verlede jaar tekens van herstel getoon. (blou lyn). Die sonneblom-oes was baie wispelturig in die tydperk maar toon tog ‘n stygende tendens. Die oppervlakte onder sojabone (nie in grafiek) het egter baie skerp toegeneem en is tans aansienlik groter as die oppervlakte onder sorghum en grondbone gesamentlik. Die sojaboon-oes het nóg skerper toegeneem en is die afgelope drie jaar selfs groter as die sonneblom-oes. Dit lyk dus na ‘n belowende alternatief sou mieliepryse nie na wense toeneem nie.
Grafiek 3:
Buitelandse produksie en vraag na mieliesDie binnelandse vraag is beperk en die oorskot moet uitgevoer word. Dus volg die vraag hoe die produksie en verbruik van mielies in die buiteland lyk? Met ons eie ekonomie nie so waffers nie is die wisselkoers gelukkig in die guns van uitvoerders en kan produsente ‘n paar rand vir ‘n dollar verdien. Maar is dit heeltemal so maklik?
Tabel 1 hieronder gee die produksie en verbruik van die tien grootste produserende lande aan, die verbruik in daardie lande asook die oorskotte of te korte. Suid-Afrika, met sy rekord-oes, is in die negende plek. Amerika en China is verreweg die grootste produsente asook die grootste verbruikers. Meeste lande in die groep produseer oorskotte met slegs Mexiko wat ‘n noemenswaardige tekort het.
Wat opval is dat Suid-Afrika se vriende in die Brics-groep almal onder die top tien produserende lande val en slegs China ‘n geringe tekort ervaar. Suid-Afrika sal dus buite dié vriendekring moet soek na kopers vir sy oorskot en sal moet meeding met lande, soos die VSA, waarvan die oorskot alleen 4,5 keer groter is as Suid-Afrika se totale produksie. Dit laat mens met die vraag watter betroubare lande potensiële kopers vir ons oorskot mielies kan wees.
Tabel 1:
Waar laat dit die mielieprodusent?
Die totale mielie-oes sal waarskynlik bly toeneem. Pryse, veral as dit gestut kan word deur inkomste uit uitvoer en die wisselkoers in die guns van uitvoerders bly, kan stadig bly groei, maar is riskant omdat die wisselkoers maklik kan omswaai en daar groot kompetisie van die groot produsente is. Plaaslike pryse sal waarskynlik stabiel bly en nie vinnig groei nie.
Ander gewasse, veral sonneblomme en sojabone, blyk goeie alternatiewe te wees vir die produsent wat dit oorweeg om mielieproduksie te verminder.
Uitvoer-moontlikhede word bemoeilik deur groot oorskotte in die VSA en min lande met groot tekorte. Die onstabiele wisselkoers kan ook ‘n probleem wees.
Notas:¹ Benaderde syfer gebasseer op verkooppryse vir witmielies op die kommoditeitsmark gedurende Oktober/November 2014. Amptelike syfer sal eers in 2015 bekend wees.
² Data verkry van www.indexmundi.com/AGRICULTURE . Die bron van die data is die statistiek afdeling (NASS) van die VSA se Departement van Landbou. (USDA). Die data word gereeld opdateer.
³ Amptelike RSA statistiek toon verbruik aan as 9 miljoen ton. Sien ‘ABSTRACT OF AGRICULTURAL STATISTICS 2014’ – TABEL 8. Dit sal beteken dat die oorskot 5 miljoen ton is. www.daff.gov.za//daffweb3/Resource-Centre/ (gaan na ‘statistical information’)
Bronne:OESSKATTINGSKOMITEE www.daff.gov.za/daffweb3/Home/ (Crop-Estimates) en www.sagis.org.za
ABSTRACT OF AGRICULTURAL STATISTICS -2014 : www.daff.gov.za/daffweb3/Resource-Centre/INDEXMUNDI – VSA LANDBOUSTATISTIEK
* Geskryf deur Kobus Smit, 'n landbou-ekonoom en voormalige voorsitter van die Nasionale Oeskattingskomitee. Sy e-posadres is: diesmitte@gmail.com