
Hoe kom jy by alles uit?
Potlood en papier is die beste belegging wat jy kan maak. Sit, skryf neer en beplan. Stel lysies op van wat jy moet doen en prioritiseer dit. Doen alles deeglik sodat die werk nie kleintjies kry nie. Stiltetyd is baie belangrik om innerlike krag te kry, te fokus en seker te maak jy’s op die regte pad.
Watter kursusse bied jy op die plaas aan?
Ek glo daarin om van die grond en wat dit voortbring te leef. My klasse leer mense om weg te beweeg van geriefsvoedsel, preserveermiddels en ander skadelike kosse. My hoofkursusse is kaasmakery en suurdeeg. Ek bied ook gewone kookklasse met temas aan, soos vleis, vleisverwerking, gebak en Indiese of Italiaanse kos.
Hoe het die gastehuis ontstaan?
My man kon een keer, tydens ’n klas by ons huis, nie parkeerplek kry nie. Hy het op die daad besluit ons moet “groot huis” toe trek. Daarna het die twee dag lange kaas- en broodklasse afgeskop en die kursusgangers het in die vierkamerhuis tuisgegaan. Deesdae is dit nooit leeg nie, want mense huur ook die verblyf as daar troues in die omgewing is.
Hoekom was dit vir jou belangrik om die blog BoereKos Twist aan te pak?
Ek het genoeg gehad van al die verkeerde inligting wat mense se dood kan veroorsaak. Kennis is mag en geen kind of bejaarde in die land moet honger ly nie. Daar is baie wat jy met ’n primus, eenplaatstoof of selfs ’n mikrogolfoond kan doen.
Wat is jou betrokkenheid by die pekanboerdery?
China is ons grootste mark, maar hulle koop net groot en ekstragroot neute. Ek dop die medium en klein neute op die plaas uit en verwerk dit tot lekkergoed en snuisterye vir plaaslike winkels en koffiewinkels. My uitdopaanleg verskaf drie maande van die jaar werk. Die werkers is opgelei om die neute te gradeer en uit te dop. Ek het met my eie patent vorendag gekom om die neute uit te dop. Elektriese krakers slaan vas en dan staan die stelsel dae lank stil. Ons kraak met die hand – dis vinniger as met die masjien en die breekskade is minder.
Wat het bygedra tot jou sukses?
Ek het lang- en korttermyndoelwitte gestel en elke maand daaroor besin. Soms draai dinge anders uit en dan moet jy ’n kreatiewe oplossing hê. Ek is altyd oral sodat my voetspore gesien kan word. Ek sal nooit-ooit genoeg kan leer nie en is ook betrokke by buitelandse studies. Die dag dat ek dink ek weet alles van my werk, is die dag dat jy my kan begrawe.
Vir meer oor Berg-en-bos-gasteplaas se webwerf http://bosenbergguestfarm.co.za/en Boerekos met 'n Twist by http://boerekostwist.blogspot.co.za/.