
Sy spoor in die sandklofie het my van die ou koedoebul vertel. Dit het sandlangs geslinger na waar die twee rante weerskante van die klofie bymekaar aansluit en ’n nekkie maak.
Soos die weke aanstap, het ek geleer die ou, groot gryse loop gewoonlik in die namiddag die sakkende son agterna, glip oor die nekkie en smelt dan in die ruie vaalbos weg. In die voormôre het hy weer al met die klofie langs ooswaarts die oggendson tegemoet gestap. Ek het hom verskeie kere probeer betrap daar in die sandkloof, maar hy het my altyd ontwyk.
Toe, een koue wintermiddag, nadat hy reeds etlike weke lank die kloof sy loopplek gemaak het, het ek hom vir die eerste keer gesien. Ek het uit die veld bo die nekkie gekom en die kloof onder my was pas in sig toe ’n beweging my aandag trek. Deur my verkyker het ek die ou grote stadig in my rigting sien stap. Hy was redelik ver en onbewus van my. Die tekens van tyd het duidelik op sy lyf gewys – hy was reeds ’n blounekbul, sy linkeroor was halfpad stomp en sy ribbes en heupbene het teen sy vaal vel gebeur.
Terwyl ek die bul dophou, het ’n groot deernis jeens hom in my hart kom lê. Hy was duidelik in sy skemerjare en ek het besef die grootste van alle jagters, Vader Tyd, volg reeds sy slingerspoor. Dis toe dat die deeltjie van my hart wat aan diere menslike emosies gee, begin wonder wat daagliks in sy gemoed omgaan. Was sy roete agter die son aan ’n poging om van die ewige donker, wat uiteindelik almal se lot is, te vlug? Ek het omgedraai en die ou heer gelos sodat hy sy middagstappie in vrede kan geniet.
Dit het weer somer geraak en ek het die ou bul soms vlugtig gesien. Een middag kort nadat die eerste herfsblare begin val het, was ek toevallig weer in die sandklofie en dis tóé dat ek dit sien… my ou skemervriend se spoor het plek-plek gesleep. Die ou bul was op sy laaste.
In my binneste het ’n stryd begin woed. Moes ek die ou grote aan die kanker van tyd oorlaat of moes ek myself as verlosser aanstel? Ná twee weke het ek besluit… en die volgende middag met die Mauser oor my skouer afgesit na die skemerbul se klofie.
Ou bul word vry
Maar hy was nêrens te vinde nie en het my dae lank ontwyk. Het hy iewers dood gelê of was hy dalk bewus dat ek op sy spoor geloop het, het ek gewonder? ’n Lastige vinger het aan my gewete kom krap: Wou ek hom help of hom bloot myne maak? En toe breek die dag aan. Sy sleepspoor het skielik kraakvars voor my in die klofie gelê.
Miskien het die ou bul intuïtief geweet hy sou nie weer die son tegemoet stap nie en dit toe vir my maklik gemaak, want hy het skielik oop en bloot voor my gestaan, skaars 50 tree weg. Ek het ’n oomblik geweifel voordat ek die Mauser gelig het. Selfs toe die wangstuk koel teen my vel rus, het die grys, ou heer reguit na my bly kyk.
In die oomblik voordat ek die sneller getrek het, het ek my verbeel dat daar iets trots, amper uitdagends in sy houding was – so asof hy my wou laat verstaan dat ek hom nooit sou besit nie, dat sy gees sou agterbly daar in die doringboomveld waar dit hoort. Toe ek by hom kniel, het ’n gevoel van vrede oor my gekom – die ou bul was vry.
Ek het geen foto’s geneem nie, ook nooit sy horings in my geweerkamer gehang nie. Hulle moes bly waar die ou bul geval het, daar waar ek wil glo sy gees steeds elke môre die opkomende son tegemoet stap.
Koos Barnard is SA Jagter se redakteur.