
Die tema van vanjaar se Wêreldeierdag is om aan gemeenskappe iets terug te gee, sê die Internasionale Eierkommissie in ‘n verklaring oor die dag. In Frankryk gee die bedryf 500 000 eiers as deel van ‘n welsynsprojek weg en ‘n opvoedkundige rolprent oor die Franse eierbedryf word ook vandag bekend gestel. Verder is ‘n Europese sjefvereniging gevra om vandag spesiale aandag aan eiers in restaurante te gee.
In Kanada word eiers aan 130 000 kinders uitgedeel en in Amerika word feite oor eiers bemark aan die hand van ‘n eierkarakter wat soos Indiana Jones geverf is en die wêreld vol reis. Die Amerikaanse eierraad span sosiale media in en bied onder meer ‘n wedstryd op Twitter aan waar vrae oor eiers gevra word en mense foto’s van hulself kan plaas van waar hulle eiers eet of eierdisse voorberei.
Ander lande met eierprogramme is Bangladesh, Nieu-Seeland, Turkye, Mexiko, Hongkong en Hongarye. Die programme behels enigiets van die uitdeel van eiers tot meer ernstige seminare in.
In Spanje word pryse vandag toegeken vir die beste navorsing oor eiers, die beste resep met eiers, en die beste oudiovisuele werk oor eiers. Die Spaanse departement van landbou maak ook die bevindinge bekend van ‘n opname oor Spaanse verbruikers se kennis oor eierproduksie, - etikette en –hantering.
Nader aan die tuisfront is daar eierbedrywighede in onder meer Zambië en Zimbabwe. Die Zambiese pluimveevereniging het ‘n eierbespreking op radio gereël en dat kinders opstelle skryf oor eiers en voeding, terwyl kleinhandelaars in Zimbabwe vandag sekere hoeveelhede eiers gratis uitdeel nadat die voordele van eiers die afgelope tyd bemark is.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê produsente bied self vandag hier spesiale eierprogramme aan.