
Al gewonder hoekom is kool, blomkool en broccoli deesdae so duur? Gewilde diëte soos dié van prof. Tim Noakes kan moontlik daartoe bydra, berig Volksblad. Die vraag na en pryse van dié groente het die hoogte ingeskiet – moontlik danksy sy hoëvet-dieet.
Oor dié sportwetenskaplike, wat onlangs sy boek, The Real Meal Revolution, op ’n gesondheid-simposium van die Universiteit van die Vrystaat (UV) bespreek het, se eetplan word wyd bespiegel en wyd bestry.
Volgens Noakes is vrugte taboe en is slegs beblaarde groente soos blomkool, broccoli, kool en spinasie toelaatbaar. Maar kan dié dieet werklik die rede wees waarom pryse en aanvraag styg?
Mnr. Hans Badenhorst, 'n kleinboer van Bainsvlei, glo vas dit is die geval. Hy verskaf blomkool en broccoli aan Johnny’s Fruit Market in Tweede Laan. “Daar is ’n baie groot toename in die aanvraag van blomkool en broccoli.
Mnr. Simon Tyrannis, eienaar van Johnny’s Fruit Market, beaam dat sekere groentes duurder geword het. “Die pryse van tamaties, kool, boontjies, blomkool en broccoli het baie gestyg. Boontjies se pryse het in ’n jaar se tyd byna verdubbel.”
Hy kan verstaan dat die omstrede dieet wel ’n rol speel, maar meen dit is nie bloot Noakes se skuld nie. “As ’n mens kyk na die mense in ons land, hoeveel dink jy kan bekostig om op dié dieet te gaan? Koolhidrate is baie goedkoper as proteïne.”
Bron: Volksblad.