
‘n Negentiende-eeuse kasteel, of chateau, in die hartjie van Cognac, Frankryk, is nou in brandewynprodusent Distell se besit. Dit sal nou die setel van Distell se nuwe handelsmerk, Bisquit, wees. Die maatskappy het dié geskiedkundige handelsmerk en gepaardgaande voorrade in Maart vanjaar van Pernod Ricard vir €3 miljoen bekom.
Die kasteel het voorheen deel uitgemaak van die Raynal & Cie-perseel wat aan die Skotse firmaWilliam Grant & Sons behoort het. Dit sal nou na Chateau Bisquit herdoop word. Die perseel beskik oor omvattende versnydings- en botteleringsgeriewe vir cognac, beslaan ‘n hele straatblok en sal ook as ‘n toeriste-aantreklikheid dien.
“Die gebou vertoon al die grasie, adel en statuur wat ‘n mens verbind aan ‘n cognac met die aansien van Bisquit. Wanneer die chateau opgeknap en toegerus is met die geriewe wat ‘n besoek daaraan ‘n besondere ervaring sal maak, sal dit ‘n tasbare basis vorm waarop ons kan voortbou aan die beeld van die handelsmerk. Die geriewe is sodanig dat ons ‘n probleemvrye oorgang sal kan maak, vorentoe sal kan kyk en op die uitbouing van produksie in ooreenstemming met markebehoeftes gemik kan wees,” sê me. Caroline Snyman, hoof van Dsitell se spiritualieë-afdeling.
Bisquit het in 1819 die lig gesien en is deur Alexandre Bisquit geskep. Dit het vir die volgende 150 jaar in die besit van die Bisquit-famillie gebly en is in 1966 deur Pernod Ricard gekoop. Dié cognac is ‘n markleier in België en is populêr in Luxemburg, Switserland, Rusland, Frankryk en Duitsland.
10 Julie 2009