
Die stigting van die Afrika-Droughtmaster-beestelersgenootskap op 17 Junie in Windhoek volg ná ’n proses van administratiewe rompslomp die afgelope twee jaar met mnr. Joel Mamabolo, die Suid-Afrikaanse registrateur van Veeverbetering.
Mnr. Adriaan Odendaal van Villiers, nuut verkose voorsitter van die genootskap, sê hy betreur dié stap en die mikpunt van die land se sowat 40 telers en 30 voornemende telers is steeds om die genootskap vanuit plaaslike bodem te bedryf.
Volgens Odendaal beskik die genootskap oor sowat 3 500 goedgekeurde vroulike diere. "Die plaaslike telers is sedert die stigting van ’n Droughtmaster-klub op 9 Mei 2012 aan bande gelê en verskeie pogings om toestemming van die registrateur te verkry om ’n Suid-Afrikaanse impakstudie vir die vestiging van die ras te onderneem, het misluk.” Hy sê daar was minstens 20 geleenthede van briefwisseling met Mamabolo sedert September 2011, waarvan baie nie eens beantwoord is nie.
Die Droughtmaster word nie ingevolge die Wet op Diereverbetering van 1998 as ’n beesras in Suid-Afrika erken nie. “Die genootskap gaan onder die vaandel van die Afrika-Droughtmaster, omdat ons telers en belangstellendes in Botswana en Namibië het. Ons het ons na die NSV gewend in ’n poging om ons aanteelvee te registreer,” sê Odendaal.
Die telersgenootskap het ’n grondwet aanvaar wat by die registrateur van veeverbetering in Namibië vir registrasie ingedien is. Die raad van die Suid-Afrikaanse klub, onder Odendaal se voorsitterskap, is eenparig op die stigtingsvergadering van die genootskap verkies.
’n Kantoor sal plaaslik beman word om dienste soos diere-aantekening elektronies te hanteer.