Boere stamp dikwels koppe met diere soos ystervarke en erdvarke, omdat die diere se leefgewoontes groot probleme vir boere kan veroorsaak. Tog is die bydrae wat hierdie twee diersoorte tot die funksionering en dinamika van 'n ekosisteem lewer, onvervangbaar. Hulle dra op lang termyn by tot die gesondheid van weiding vir vee - juis dit waarvan veeboere afhanklik is.
Die beskerming van die diere en verdraagsaamheid teenoor hul ongewenste gewoontes sal dus tot die voordeel wees van grondeienaars deurdat die primêre produksie van die veld behoue bly.
Erdvarke het gespesialiseerde eetgewoontes. Hulle eet hoofsaaklik miere en in 'n mindere mate termiete. Hierdie unieke dier is die enigste oorlewende lid van die orde Tubulidentata. Die ystervark, aan die ander kant, is Suider-Afrika se grootste knaagdier (van die orde Rodentia) en is 'n planteter.
Erdvarke is nagdiere wat meestal alleenlopend is. Dit is ook die rede hoekom 'n mens hulle nie dikwels in die veld opmerk nie.
Ystervarke is monogaam ('n mannetjie en 'n wyfie leef saam). Hulle leef in groepe bestaande uit 'n volwasse paartjie, of 'n volwasse paartjie met hul vorige werpsels of 'n mannetjie met daardie jaar se werpsel.
Albei diersoorte is berug vir die gate wat hulle grawe. Dit is die rede hoekom hul gereeld in onguns by grondeienaars is. Erdvarke stap gewoonlik tussen 2,7 km en 4,4 km per nag op soek na kos. Hulle loop ongereeld rond met hul neuse teen die grond. Hulle stop elke nou en dan om te grawe vir miere. Hoewel die meeste grawe-aksies as oppervlakkig gesien kan word, kan hulle soms tot 'n paar meter diep grawe. Dis juis hierdie groter gate wat skade aanrig aan paaie en damwalle.
Waar erdvarkegate onder grensheinings deur grawe, bied dié gate ook deurgang vir ongewenste diere, soos jakkalse.
Ystervarke veroorsaak weer skade aan gewasse, soos aartappels en pampoene, asook plastiekwaterpype.
Maar, ten spyte van hul ongewenste gewoontes, speel hulle 'n belangrike rol in die landskap en die ekologie daarvan. 'n Onlangse studie in die distrik Nieuwoudtville het gewys dat hierdie diere 'n "ekologiese ingenieursfunksie" het.
Ystervarke versteur ongeveer 0,32% van die grondoppervlak waar hul woon. Hulle verplaas ongeveer 1,6 m3 grond per hektaar per jaar tydens hul 160 tot 3 500 graafaktiwiteite per hektaar. Soortgelyke bevindinge is ook aangeteken in ander ariede dele van Suider-Afrika.
Verskeie ondersoeke het getoon dat die erdvark en ystervark se uitgrawings vrugbare habitatte vorm waar plantsade kan ontkiem en vestig.
In die Nieuwoudtville-studie is ook gevind dat die kolle wat deur ystervarke versteur is, meer saailinge het as omringende, onversteurde dele.
Die afleiding is dus dat grawende diere, soos erdvarke en ystervarke, 'n belangrike rol speel om hulpbronne beskikbaar te stel vir ander diere en organismes. Die holtes van die gate vang reënwater op en verbeter sodoende die infiltrasie van water, wat tot dubbel soveel kan wees as op onversteurde dele. Mikro-habitatte word geskep deurdat dit water opvang, saad versamel en 'n deklaag opbou, waarin meerjarige Karoobossies en grasse hulle kan vestig.
Diere, soos erdvarke, aardwolwe en bakoorjakkelse, help om mier- en termietbevolkings in toom te hou, wat natuurlik tot die voordeel van die grondeienaar is. Die aardwolf vreet spesifiek net die klein grasdraertermiet en word soms verkeerdelik beskuldig dat hulle vee vang.
Verlate gate van erdvarke en ystervarke is ook skuilplek vir 'n verskeidenheid ander diersoorte. Sommige, soos die swartpiek, is selfs afhanklik daarvan. Hierdie voëltjie slaap en broei amper uitsluitlik in ou erdvarkgate.
Ander diersoorte wat hierdie gate gebruik, sluit spinnekoppe, heuningbye en stinkmuishonde in. Altesame 20 diersoorte is al aangeteken as gebruikers van ou erdvark- en ystervark-gate, maar dis 'n onderskatting aangesien daar nog nooit 'n wetenskaplike ondersoek hieroor gedoen is nie.
- Mnr. Eric Herrmann en me. Drucilla Jenkins is onderskeidelik 'n soogdierkundige en natuurbewaarder verbonde aan die Noord-Kaapse departement van toerisme, omgewing en bewaring in Kimberley.
Landbouweekblad, 25 April 2008