
Die wêreld se grootste opelug-aanleg om elektrisiteit van misstof te vervaardig kan binnekort by Heidelberg in Gauteng gebou word. Dié projek word deur die onafhanklike energieverskaffer Lesedi Biogas Project (LBP) en Karan Beef aangepak. Die verwagting is dat die voorgestelde kragsentrale teen middel 2011 in bedryf sal wees.
Mnr. Nunda Naidoo, LBP-verteenwoordiger, sê die projek se ontwikkelingskoste sal sowat R150 miljoen beloop gegewe ’n wisselkoers van R10=$1. Finansiering vir die projek sal van LBP, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Sentrale Energiefonds kom.
Karan Beef sal al die beesmis van sy voerkraal by Heidelberg aan LBP verskaf. Die twee maatskappye onderhandel tans ook om harde vet en pensmis van Karan se slagplaas in Balfour, Gauteng, te gebruik om krag op te wek. Dié twee bestanddele bevat meer gas as gewone beesmis.
Naidoo sê sy maatskappy beoog om die krag wat deur die projek opgewek word, aan Eskom te verkoop. “Onderhandelings oor tariewe tussen Lesedi, Eskom en die Nasionale Energiereguleerder is reeds aan die gang,” sê hy. LBP se lisensie om ’n kragopwekkingsaanleg te bestuur, behoort binne die volgende twee maande uitgereik te word. Die aanleg sal na verwagting vir sowat 30 jaar bruikbaar wees. Die koste om die aanleg te bedryf en te onderhou sal R15 miloen tot R20 miljoen per jaar beloop.
Bron:
24 Augustus 2009