
Die Europese Unie het onlangs ’n Ekonomiese Vennootskap (EPA) onderteken waarin hy onderneem om die tariefvrye kwota op wyn van 48 miljoen liter na 110 miljoen liter te verhoog. Waar die kwytskelding in die verlede net op verpakte wyn van toepassing was, maak die nuwe ooreenkoms ook voorsiening vir grootmaatwyn. Daar word nie voorsiening gemaak vir vonkelwyn nie, aangesien daar nie tariewe op gehef word nie.
Mnr. Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, is opgewonde oor die ooreenkoms wat sowat tien jaar geneem het om te onderhandel en deel is van die Europese Unie se ekonomiese vennootskap met SADC: “Die Europese Unie verteenwoordig nou sowat twee derdes van Suid-Afrika se totale wynuitvoer. Ons het tot einde Junie sowat 115,7 miljoen liter verpakte wyn en 220,1 miljoen wyn in groot maat soontoe uitgevoer.
Alhoewel die kwota vir ’n kombinasie van grootmaat- en verpakte produkte voorsiening maak, sien Basson dit as ’n geleentheid om ’n balans tussen hierdie twee kategorieë te vind. Volgens navorsing het grootmaat-uitvoer toegeneem van 34% van Suid-Afrika se totale uitvoer na 66% in 2013, terwyl verpakte wyn van 66% na 34% oor dieselfde periode gedaal het.
Die verhouding tussen grootmaat en verpakte waarop kwytskelding berus, sowel as die administrasie betrokke, moet nog gefinaliseer word. Basson het gesê dat die bedryf die voordeel wat uit die tariefvrye uitvoerkomponent getrek word, strategies wil aanwend om spesifiek die markaandeel van verpakte premie-produkte in die EU te verhoog deur handelsmerke te vestig en te versterk en Handelsmerk SA te bevorder.
Basson het gewaarsku dat produsente moet oppas dat Europese handelaars nie pryse afwaarts aanpas nadat die vergunning in werking getree het nie.
Die Ekonomiese Vennootskap maak voorsiening vir verbeterde marktoegang vir sowat 32 landbouprodukte van Suid-Afrika. Daar sal onder andere vir die eerste keer ’n tariefkwytskelding wees op suiker, vir die eerste 150 000 ton wat jaarliks ingevoer word, en vir die eerste 80 000 ton etanol wat ingevoer word.
Die ooreenkoms moet deur al die deelnemende lande, insluitend Suid-Afrika, aanvaar word, wat ten minste agt maande kan neem voor dit in werking sal tree.