Alle aanduidings bestaan dat droë mango's uit Suid-Afrika in 'n gesogte uitvoerproduk na die Europese vasteland kan ontwikkel, sê me. Christa Scholtz van die Suid-Afrikaanse Mangokwekersvereniging (SAMKV) op Tzaneen in Limpopo.
Volgens Scholtz, wat pas teruggekeer het van die jaarlikse Fruit Logistika-skou in Berlyn, Duitsland, het Suid-Afrika se Varsprodukte-uitvoerdersforum met dié uitstalling duidelik 'n bres geslaan vir plaaslike vrugteprodusente.
Die skou word elke jaar in ses sale gehou wat elkeen omtrent so groot soos 'n rugbyveld is. Europese invoerders en nuwe kopers kon kennis maak met Suid-Afrika se verskeidenheid vrugte en verwante produkte, maar dit was veral die droë mango's waarin daar groot belangstelling was. Die Europeërs kon byvoorbeeld nie glo dat dit 'n natuurlike produk is en dat geen suiker bygevoeg is nie, het Scholtz gesê.
10 Maart 2006