
Ford is glo besig om sy nuwe veldren-geïnspireerde Ranger Raptor se laaste moere en boute vas te draai voor hy dit by sy uitsoeklys van spesiale hoëwerkverrigtingmodelle voeg.
Amptelik sê die Ford Motor Company sy gewilde Ranger-reeks gaan binnekort uitbrei met ’n hoëwerkverrigting-veldrymodel wat as die Ford Ranger Raptor bekend sal staan. Die Raptor, met ’n onderskeidende en kenmerkende buite-afwerking, sal die eerste amptelike doelgeboude veldry-weergawe van die Ranger wees. En ’n mens kan maar net raai dat die onderstel, veerstelsel en enjin(s) ook behoorlike onder die towerstaf durgeloop het om wel die reg-vir-alles-voorkoms gestand te doen.
’n Mens kan aanvaar dat die Ranger se huidige 2.2/6- en 3.2/6-dieselenjins vir die Raptor ingespan gaan word, heelwaarskynlik met ’n klompie ekstra kW en Nm om stof in mededingers se oë te skop. Ford belowe egter dat dit wel ’n unieke eentonner in die huidige middel-grootte bakkiesegment gaan wees… dit is immers geskoei op die baie gesogte Ford F-150 Raptor wat allerweë as een van die wêreld se voorste stoftrappers beskou word.
Die nuwe Ranger Raptor gaan voortaan ook pryk op Ford se internasionle lys van hoëwerkverrigtingmodelle saam met die F-150 Raptor, die Ford GT, Ford Mustang Shelby, Focus RS, Focus ST èn die parmantige klein Fiesta ST. Al hierdie modelle deel in Ford se hoëwerkverrigting-DNA.
Mnr. Jamal Hameedi, Ford Performance se hoofingenieur, sê met die nuwe Ranger Raptor het die maatskappy se ontwerp- en ingenieurspanne daarin geslaag om die Raptor se gevorderde veldryvermoë met die Ranger se veelsydigheid te kombineer. Hou gerus Ford SA se Facebook-blad dop vir nuwe nuus oor hierdie adrenalien-pakket… hier kom vir jou ’n ding hoor!