
Ford glo blykbaar dat sy viertrek-3.2 TDCi-dubbelkajuit só effe vaal raak in die mark en daarom is dit nou met ’n hele klompie interessante visuele elemente èn die jongste SYNC® 3 met ’n navigasie-inligtingskerm opgekikker.
Die nuwe model se Fx4-kenteken is gesetel in die legendariese Amerikaanse F-reeks bakkies en beklemtoon die ‘Build Ford Tough’-DNA van die huidige Ranger-reeks. Kyk, basies is die Fx4 ’n opgekikkerde 3.2 liter XLT-dubbelkajuit en voeg net daardie bietjie ekstra uitbundigheid toe waarsonder sommige kieskeurige kopers envoudig nie kan klaarkom nie.
Me. Tracey Delate, die Ford Motor Company Sub-Sahara Africa se bemarkingsbestuurder, sê die Fx4 se unieke kenmerke bied eksklusiwiteit en ’n eie persoonlikheid wat beslis raakgesien word in die vaal massa. Vir die nuwe voorkoms is die sierrooster, mislighulsel, buite-truspieëls, dakrelings asook die deur- en laaibakklaphandvatsels in swart afgewerk.
Dan is daar die 17 duim allooiwielvellings, sykanttrappe, agterstamper en spesiale sport-rolstaaf in die laaibak wat alles ewe netjies met Panther Black-verf bygekom is. Unieke Fx4-kentekens op die sykante en die laaibakdeksel rond die prentjie af.
Die Fx4 3.2 TDCi-dubbelkajuit (handrat) 4X4 kos R593 900 terwyl die weergawe met ’n outomatiese ratkas st pryskaartjie R608 900 lees.