
Al hoe meer boere oorweeg gemotoriseerde valskermsweeftuie omdat dit kostedoeltreffend is, maar ook omdat dit die bestuur van wild meer vaartbelyn maak.
Mnr. Eugene Cussons, ’n bewaringskundige, entrepreneur en wildboer van Mpumalanga, gryp tegnologie met albei hande aan en benut dit. Hy is letterlik in die wolke oor die voordele wat dié nutsmiddel veral aan boere bied. Eugene is veral bekend om sy projek Chimp Eden vir die Amerikaanse TV-kanaal Animal Planet.
Dit is egter nie net wildboere wat die potensiaal daarvan raaksien nie. “Oor die Kaapse wynlande tot by die groot skaapboere in die binneland en die wildplase van Limpopo kan van hierdie masjiene daagliks in die lug gesien word. Boere vrees die verlies van lewende hawe deur stroping of ongewenste roofdiere, en telers van skaars wild moet hul gesogte diere baie fyn dophou. Maar dikwels is die vorm van hul vervoer belangrik en die keuses beperk,” sê Eugene.
“Vandag het ek ’n masjien wat op my voorstoep staan, gereed om op te styg. Dit kan my in minder as 40 meter in die lug kry, met 3½ uur se vlugtyd teen ’n spoed van 10 km/h tot 64 km/h. Ek kan in enige oop veld daarmee land.”
Nie ’n perd of 'n bakkie nie . . .As ’n leek dié masjien van Eugene sou sien, sal hy of sy dit beskryf as ’n sweeftuig met ’n skroef en ’n sitplek wat jy aan jou vasgordel en waarmee jy dan vlieg. Vir die versigtige mens het die tuig ’n konvensionele valskerm onder die sitplek, wat gemoedsrus gee dat indien enjinprobleme ontstaan, ’n noodlanding jou ’n veilige aankoms op die grond of in water verseker.
Met ’n gevorderde kommunikasiepakket in die valhelm kan die vlieënier telefoonoproepe of radio-uitsendings maak met die druk van ’n knoppie. Die tuig het ook ’n drasak vir ’n vuurwapen, of dit bied ’n kamera-drasak met maklike toegang om nuttige visuele materiaal in te samel. “Met al dié voordele vervang dié gemotoriseerde sweeftuig dalk nie ’n perd of bakkie nie, maar dit sorg beslis vir ’n goeie kombinasie!”
Eugene sê nadat ’n artikel oor dié valskermsweeftuie op Landbou.com verskyn het, is hy oorval met navrae. Een was van ’n Noord-Kaapse wildboer, mnr. Hendrik Maritz van die plaas Glen Lyon, tussen Prieska en Upington, wat ’n Nirvana NRanger aangeskaf het. Hy het Eugene toe genooi om die voordele van dié tuig aan ’n groep boere te kom vertoon. (Hendrik het ’n heeltydse span van ses opgeleide mans wat die wild op die plaas teen stropery beskerm.)
Hy vertel: “Ek is hartlik deur Hendrik en sy span verwelkom en ek het so gou moontlik in die lug gekom om die pragtige reservaat van 58 000 ha te besigtig. My opstyg-afstand was 10 m, met ’n ligte bries van 7 km/h uur in die gesig. Die skouspel wat my te beurt geval het, kan regtig net waardeer word terwyl jy gemaklik teen ’n lae snelheid en lae hoogte sweef.”
Hendrik en sy span het teelkuddes bastergemsbokke, swartwitpense en renosters wat op die meestal plat veld en koppies loop.
“Om hierdie reuseplaas te verken, is al klaar moeilik en die lae struikgewasse wat net hoog genoeg is om sig te belemmer, maak enige besigtiging uit ’n voertuig uiters moeilik op die onderhoudspaadjies. Die klem is daarop om elke kudde gereeld op te spoor,” sê Eugene.
Wildtelling op 100 m“Die aanwending van NRanger is ’n uiters doeltreffende metode in die hande van die wildteler en reservaatbestuurder op hierdie unieke terrein. Die ongelowige Thomasse het vinnig van mening verander toe die groot aantal wild wat ek gesien en op film vasgelê het, aan hulle gewys is,” sê Eugene.
“Een rede waarom ek genooi is om hierdie demonstrasie te doen, was oor die gebruik van die NRanger in die Manyeleti-wildreservaat, wat deel is van die Krugerwildtuin. Ek het baie ondervinding opgedoen deur die deelname aan die Nirvana Raptor-projek, wat etlike honderde vliegure van doelgerigte aanwending en toetse insluit.
“Op my tweede dag in die Kalahari moes ek ’n demonstrasie aan die Glen Lyon-span en ander genooide wildboere doen. Ek het begin deur die aanpasbaarheid te vertoon deur die masjien van die drarak agter op die bakkie af te haal en vinnig uit die naaste stuk veld op te styg. Daarna het ek ’n vinnige wildtelling van ’n hoogte van 100 m gedoen. Ek kon ’n troppie kameelperde sien. Toe ek nader vlieg om hulle te tel, het ek ook ’n groterige trop springbokke gesien. Ek het albei tellings per radio deurgegee, asook die presiese ligging volgens my GPS-sagteware.”
Geluid steur nie wild nieDie boere van die Kalahari het egter meer nodig om hulle te oortuig en, soos hulle sê, probeer is die beste geweer. As die opspoor van wild die doel is, moet die demonstrasie presies dít insluit, al het stygende temperature begin intree. Hendrik het hom uitgedaag: “Vlieg in die rigting van daardie koppie,” terwyl hy daarheen gewys het, “en kry vir my ’n renoster in daardie gebied.”
“Ek het weer opgestyg. Gou het ek twee renosters by ’n waterpunt gesien en die geleentheid gebruik om vinnig ’n foto te neem.
“Soos gewoonlik het die naderende masjien se klank hulle glad nie gesteur nie. Nadat die foto geneem is, kon ek hul ligging per radio deurgee. Daarna het ek nóg twee rustig weiende renosters in die nabye vlakte gesien. Met ’n vinnige verbyvlug teen ’n lae hoogte kon ek boonop goeie hoëresolusiefoto’s neem.
“Op die terugvlug het ek nóg ’n groot bul gesien wat toe ook glad nie omgegee het om vir die kamera te glimlag nie. As hy kon waai, is ek seker hy het dit gedoen!” Ná dié 45 minute se vlieg het die NRanger net sowat 2 liter brandstof gebruik, sê Eugene.
(Kyk na Eugene se video van die vlug hieronder en fotogalery heerl onder aan die artikel.)
Wildstropery bly natuurlik die wildboer se grootste vyand. Dié groep boere het onder meer die gebruik van helikopters, ligte- en afstandbeheerde vliegtuie oorweeg. Die koste en doeltreffendheid is egter die bepalende faktore. Helikopters is eenvoudig te duur, vastevlerkvliegtuie te vinnig en afstandsbeheerde hommeltuie werk nie soos dit in rolprente geadverteer word nie.
Feite en vrae oor die valskermsweeftuig:Hoe groot is die enjin?
Die NS230 het ’n 230 cc-enjin wat ’n mengsel van loodvrye petrol en 2T-tweeslagolie gebruik.
Wat is die lisensievereistes?
Lisensievereistes sluit in ’n teoretiese toets, 35 kwalifiserende vlugte en ’n radiolisensie.
Wat maak die Nirvana perfek vir plase?
Die Nirvana het een skakelaar vir ’n elektroniese aansit/stop-meganisme wat die vlieënier die voordeel gee om ’n tweede landingspoging aan te wend ingeval die eerste ’n klein landingsarea kan oorskry of iets dergeliks voorval.
Hoe ver strek die maatskappy se steun?
Nirvana laat haal die masjien as ’n mens ’n tegniese probleem ondervind. Die maatskappy verskaf ook al die taktiese toerusting en gereedskap wat oor honderde ure se praktiese toepassing ontwikkel is.
Prys:
Die pryse vir reg-om-te-vlieg-pakkette wissel van R150 000 tot R286 000. Laasgenoemde sluit die nuutse vlerktegnologie en gemotoriseerde eenhede in.
NAVRAE:Mnr. Eugene Cussons
e-pos: Landbou@nirvanaafrica.co.za
sel 082 850 6531
Webblad: www.nirvanaafrica.co.za