
Die werklike omvang van die ekonomiese insakking sal wynmakers vanweë die langer omsetsiklus van wyn teenoor ander produkte eers op lang termyn tref.
Hierdie waarneming is deur mnr. Frans Weilbach van PricewaterhouseCoopers in Stellenbosch gemaak met die sesde opname verlede jaar oor die wyndruifoes vir deelnemende produsentekelders in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Meer as 1,4 miljoen ton druiwe is verlede jaar gepars en meer as 1 miljard liter wyn is geproduseer. Sowat 80 % van die oes is tot drinkwyn verwerk, vergeleke met 66 % in 2004.
Die persentasie rooiwyn wat geproduseer word, het die afgelope paar seisoene gestabiliseer en was verlede jaar 34 % van die totale oes. Die gemiddelde prys van rooiwyn het met meer as R7 per liter in 2003 tot minder as R5 per liter in 2007 gedaal, met ’n geringe toename verlede jaar.
Die pryse van witwyn het die afgelope paar jaar geleidelike toegeneem. Hoër oeste per hektaar dui daarop dat sommige wit kultivars hul gewildheid herwin.
Mnr. Weilbach sê kelders moet hulle, met die voortgesette druk op hul winsgrens, toespits op kostebestuur asook die verbetering van produksie, soos lewering per hektaar en gehalte, om volgehoue winsgewendheid te verseker.
Verdere verlagings, ook in finansieringskoste, behoort verligting in die volgende seisoen te bring.
14 Augustus 2009