
Alhoewel daar redelike groei in wynuitvoer oor die afgelope paar jaar was, het die bedryf ’n plan nodig om hierdie groei voort te stuur.
Mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van VinPro en me. Siobhan Thompson van Wines of South Africa het voorgestel dat die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse mark een oplossing kan wees. Hulle het by die Adams & Adams en WineLands-wynseminaar gepraat wat onlangs op Stellenbosch gehou is.
Verlede jaar is ’n rekord van 525,7 miljoen liter wyn uitgevoer, 26% meer as die rekord van 2012. Uitvoer was gedryf deur ’n swak oes in Europa en sowat 65% van die uitvoer was in die vorm van grootmaatwyn. Dit beteken dat ’n groot deel van die wyn hul Suid-Afrikaanse identiteit verloor het, omdat dit versny was met ander wyn om tekorte aan te vul.
Produksie het sedertdien in Europa herstel, met Spanje wat met ’n baie groot oes sit. Die Spaanse wyn behoort pryse in die grootmaatmark onder reuse-druk te sit. Die Europese Unie is ook van plan om oor ’n paar jaar subsidies te gee vir die uitbreiding van wingerd in tradisionele wynproduserende lidlande, wat in die toekoms nog verdere druk op uitvoer kan plaas.
Pryse vir Suid-Afrikaanse wyn is ook nie heeltemal waar dit moet wees nie. Basson het genoem dat pryse oor die afgelope paar jaar in randterme relatief dieselfde gebly het, maar dat die wisselkoers gehelp het om die impak hiervan te verminder.
Basson voel egter dat daar baie geleentheid vir groei in die plaaslike mark is. Per kapita-verbruik van wyn (natuurlik, gefortifiseerd en vonkelwyn) het van 9,24 liter in 1996 afgeneem na 6,98 liter in 2012, volgens statistiek van die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis). Daarenteen het die kategorie “ready to drink” van 2,80 liter tot 8,34 liter toegeneem.
Oor dieselfde tyd het markaandeel van natuurlike wyn van 16% na 13,8% en vir gefortifiseerde wyn van 2,9% na 2,2% afgeneem, terwyl dit by 0,4% gebly het vir vonkelwyn. Die markaandeel van “ready to drinks” het egter toegeneem van 2,4% na 8,1%. Bier se markaandeel het basies dieselfde gebly by 57%.
Basson het voorgestel dat ’n program begin word om die plaaslike mark beter in te lig oor wyn: Vir elke liter waarmee plaaslike verbruik opgaan, kan ons uitvoer met sowat 60 miljoen liter verminder. Uitvoer kan gehalveer word as ons per kapita-verbruik opstoot na tien liter.
Hy het bygevoeg dat wynprodusente minder met mekaar moet baklei in die mark: Oppas vir prysonderkruipery, fokus eerder daarop om wyn in sy geheel te bemark.
Thompson het in haar voorlegging produsente verder aangemoedig om hulle wyn nou plaaslik te bemark, aangesien wetgewing oor die bemarking van drank en spiritus in die toekoms dit al moeiliker kan maak om nuwe handelsmerke in hierdie mark te vestig.