Dr. Hennie Kleynhans, besturende direkteur van Woodlands, sê hoewel sekere afdelings van Parmalat maklik kon inskakel by sy onderneming, wat in die vervaardiging van langlewe UHT-melk, botter, kaas en melkpoeier spesialiseer, hy Parmalat SA as 'n baie goed bestuurde onderneming beskou. "Nieteenstaande die feit dat ons mededingers is, het ek net die grootste agting vir die manier waarop die maatskappy in Suid-Afrika bestuur word. Boonop moet rekening gehou word met die standpunt van die mededingingsowerheid wanneer oornames ter sprake kom."
Kleynhans meen daar sal uiteindelik twee opsies wees, naamlik dat 'n internasionale koper vir die moedermaatskappy en sy filiale gevind word, of dat dele daarvan verkoop word. "My raad aan die talle Parmalat-verskaffers wat my gebel het, was om kalm te bly en voort te gaan om hul melk aan die maatskappy te lewer."
Mnr. Stephen Fick, voorsitter van die Milkwood-produsentegroep op Alexandria, sê die tien boere van Parmalat SA wat na sy maatskappy oorgekom het, het die besluit geneem voordat die herrie in Italië losgebars het. "Uit die aard van die saak is hulle nou baie verlig dat hulle dié stap gedoen het."
16 Januarie 2004