Sowat 97% van alle sojabone, 90% van alle katoen en 74% van alle mielies in Argentinië sal vanjaar geneties gemodifiseerde (GM) gewasse wees, wat die land die tweede grootste GM-produserende land naas die Verenigde State maak.
Prof. Martin Lema, tegniese reguleerder van Conabia, die Argentynse nasionale advieskomitee oor landbou-biotegnologie het by ? sake-ontbyt van AfricaBio in Centurion gesê in 2007 was daar 20 miljoen ha aangeplante GM-gewasse in sy land.
Hy het gesê deur die aanvaarding van biotegnologie, is Argentinië nou nie net aan die voorpunt van sy eie binnelandse ontwikkeling van biotegnologie nie, maar het die land ook beskikbare tegnologie van ander lande aanvaar. "Dieoptrede het gelei tot ? dekade van ontsaglike groei in agribiotegnologie met die gepaardgaande wydverspreide voordele.
"Baie Argentynse boere besef dat tegnologie baie belangrik is vir vooruitgang in die landbou en vir ekonomiese ontwikkeling. Baie boere belê ook in firmas betrokke by landbou-biotegnologie. Biotegnologie het noemenswaardige voordele gegenereer, veral in die landbousektor."
Lema sê biotegnologie word in Argentinië bevorder deur 'n stewige regulatoriese stelsel, hoë nasionale investering in navorsing en ontwikkeling en die amptelike bevordering van die ontwikkeling van die biotegnologiebedryf. Die eerste GM-gewas - soja - is in die 1996/97-seisoen geplant en die eerste GM-katoen is in 1998 geplant.
"Moderne biotegnologie in Argentinië is 'n integrale komponent van landbouproduksie. Produkte word deur ons oorsese markte aanvaar."
Hy het die voordele beklemtoon wat die omgewing uit die aanwending van landbou-biotegnologie kry soos die vermindering in die gebruik van landbougifstowwe, grondbewaring, brandstofdoeltreffendheid, vermindering in die vrystelling van kweekhuisgasse en minder swambesmettings by mielies.
16 September 2008