
MPact, ’n maatskappy wat plastiek- en papierverpakking vervaardig, gaan ’n goedkoper soort verpakking van 'n hoë gehalte vir die suiwelbedryf vervaardig.
Dié maatskappy het pas R10 miljoen in ’n plastiekvervaardigingsaanleg in Pinetown, KwaZulu-Natal, belê. MPact is op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer. Hulle vervaardig reeds plastiekhouers vir buitelandse kliënte met behulp van nuwe toerusting.
Gehalte teen ’n hoë spoed
Mnr. Neelin Naidoo, besturende direkteur van MPact se plastiekafdeling, het in ’n persverklaring gesê die suiwelbedryf soek innoverende maniere om kostes te besnoei. Die brandstofpryse, toename in invoere en verpakkingskostes dra by tot verhoogde insetkostes in die bedryf.
“Ons nuwe toerusting kan verpakking van ’n hoë gehalte teen ’n hoë spoed vervaardig, wat kostes sal bespaar,” het Naidoo gesê.
Die eerste produk is ’n jogurt-houer van 150 ml, met ’n verskeidenheid van diktes en bodems en afwerkings. Hulle sal ander groottes en tipes houers begin vervaardig na gelang van die vraag daarna. Die nuwe masjiene kan sowat 55 miljoen houers per jaar vervaardig.
Produsente kan hul eie etikette op die houers aanbring, wat ook kostes bespaar omdat dit minder tydrowend en duur is om etikette te verander as die hele houer.