Indien Suid-Afrika op sy huidige koers voortbou kan die land ekonomiese groei van 2,2% in 2010 verwag. Hoewel alles daarop dui dat die resessie sy draaipunt bereik het, waarsku dr. Raymond Parsons, adjunk-uitvoerende hoof van Besigheidseenheid SA (Busa) dat mededingendheid in die lang termyn nie ter wille van noodsaaklikhede in die kort termyn ingeperk moet word nie.
“Ekonomieë wat let op die faktore, wat hul produktiwiteit nou en in die toekoms kan verbeter, is die mees mededingende ekonomieë,” sê Parsons gesê. Selfs voor die internasionale kredietkrisis was Suid-Afrika se ekonomie reeds besig om af te koel.
Die redes hiervoor is steeds van toepassing, sê Parsons. Dié redes sluit gebrekkige infrastruktuur, dienslewering, werkskepping, werkloosheid en die wisselvalligheid van die rand in.
Parsons sê die volgende paar maniere kan help om die ekonomiese herstel te bespoedig en meer arbeidsintensiewe ekonomiese groei te bewerkstellig:
• Werkskepping en produktiwiteit kan verbeter deur hulpbronne na arbeidsintensiewe dienste te skuif, opleidingsprogramme en basiese opvoedkunde te verbeter en die koste van indiensneming te verlaag.
• Vinniger ekonomiese groei en grootskaalse werkskepping kan aangemoedig word deur uitvoer aan te moedig en volhoubare belegging te bevorder.
• Ontwikkel nuwe en beter besigheidsmodelle vir semi-staatsinstellings. Veral vir Eskom.
• Maak meer gebruik van vennootskappe tussen die regering en die privaatsektor.
• Beleide wat daarop gemik word om herstel aan te moedig moenie toekomstige geslagte onderdruk nie. Hoë openbare skuldvlakke, ‘n hoë inflasiekoers en lae groei is nie die antwoord nie. Die Begroting, wat op 17 Februarie 2010 bekendgemaak word, moet aandui dat fiskale tekorte stelselmatig daal.
• Die monetêre beleid moet langtermyn rentekoerse laag en die wisselkoers meer stabiel hou. Dit moet binne die huidige inflasieteikens geskiet.
• Die regulering van die finansiële mark moet makro-ekonomiese stabiliteit ondersteun.
• Dit moet veral vir klein besighede so maklik as moontlik wees om in Suid-Afrika handel te dryf.
• Bou ‘n kultuur van leierskap wat op groei, prestasie, lewering en verantwoordelikheid geskoei is.
15 Desember 2009