
Ná onlangse evaluering van Voermeester in Windhoek, Namibië, se vervaardigingsaanleg, het hy die goue Afri Compliance-merk gekry omdat sy produkte aan elke aspek aan die wetlike vereistes voldoen.
Afri Compliance se sertifiseringsprotokol vir risiko- en nakomingsbestuur toets die wetlike geldigheid van geregistreerde produkte, veiligheid en toegangsbeheer, die bestuur van rou materiale en aflewering, bymiddels, etiketvereistes en rekordhouding.
Die fokus op voedselveiligheid, biosekuriteit en gehalte in die vervaardigingsproses verseker dat verwerkte produkte aan internasionaal aanvaarbare standaarde voldoen
Dit is ’n praktiese stelsel wat van ander sertifiseringsmerke soos die Internasionale Organisasie vir Standardisering en die Hazard Analysis and Critical Control Points verskil omdat laasgenoemde op internasionale kriteria vir voedselveiligheid berus sonder om na plaaslike wetgewing te kyk.
“Dit was nog altyd ons sienswyse dat alle landbouverwante vervaardigingsbedrywe in Afrika suid van die Sahara eenvormige vevaardigingstandaarde kan hê wat met die meeste internasionale standaarde vergelykbaar is. Dit is ons maatskappy se visie om lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap by te staan om die nodige maatreëls in te stel om verbruikers te beskerm teen gesondheidsrisiko’s wat met hoërisiko-produkte verband hou,” het mnr. Joe Hanekom, besturende direkteur van Afri Compliance, gesê.
Op die meegaande foto verskyn mnre. Joe Hanekom (links) van Afri Compliance en André Snyman, besturende direkteur van Voermeester. Die foto is van Die Republikein.
5 Augustus 2009