
Verlede jaar het Suid-Afrika sowat 400 000 kartonhouers van 3,8 kg granate uitgevoer. Syfers vir vanjaar is nog onbekend, maar ’n groei van 30% word verwag. Die land het ’n goeie uitvoermark na die Europese Unie, Rusland, die Verre-Ooste en Kanada. “Ons mededingers is Peru, Chili en Argentinië,” sê mnr. Kobus Louw van Sapex. Die uitvoer van verwerkte produkte was sowat 400 000 kg.
Nuwe granaatkultivars word tans geëvalueer, veral kultivars uit Oos-Europa, Spanje en Amerika. Enkeles is reeds beskikbaar gestel, maar daar is nie tans kommersiële aanplantings van nuwe kultivars nie.
Die drie kultivars wat die meeste in Suid-Afrika geplant word, is Wonderful (meer as 80%), Herschkovitz en Acco. Probleme in die bedryf is ’n gebrek aan chemiese middels wat vir die bestryding van plae by granate geregistreer is en min navorsing word daaroor gedoen. “Tegniese kundigheid is skaars, maar die bedryf vestig tans ’n organisasie, Pomosa, om probleme te pak.”
Verlede jaar het granate vir die volgende pryse verkoop: Sowat R20/kg vir klas I, R15/kg vir klas 2, R8/kg vir prosessering en R2/kg vir sap. Produksiekoste per hektaar is uiteenlopend.