
1994 - 2013
Dit is algemene kennis by kopers van landbouprodukte dat pryse oor die afgelope 20 jaar skerp gestyg het. Dit is eweneens 'n feit dat die volume van landbouproduksie oor die tydperk toegeneem het. In dié artikel kyk ons na die tempo waarin beide produksie en pryse gestyg het en watter produkte of produkgroepe die grootste invloed op die stygings uitgeoefen het.
AKKERBOUPRODUKTE Die volume van akkerbouprodukte het die afgelope 20 jaar stabiel maar baie stadig gegroei. (sien blou lyn in grafiek 1). Twee skerp dalings het voorgekom in 1995 en weer in 2007. Die hoogste produksie het in 2000 plaasgevind, met 2008 en 2013 ook baie goeie jare. Die totale groei oor die 20 jaar was egter net 10%. Die vernaamste akkerbouprodukte wat hiertoe bygedra het, is mielies en koring. Die produksie van mielies het gewissel van 5 miljoen ton in 1994/95 tot 13,5 miljoen ton in 2009/10. Die afgelope 6 seisoene wissel mielieproduksie tussen 12 en 13 miljoen ton. Die produksie van koring het tussen 2,7 miljoen ton in 1996 en 4 miljoen ton in 2010 gewissel. Die produksie van graansorghum toon ‘n afname oor die tydperk terwyl sonneblom ‘n geringe styging toon. Die produksie van sonneblom was egter uiters wisselvallig (1,2 miljoen ton in 1999 en 312 duisend ton in 2007). Die prys van akkerbougewasse was baie onstabiel oor die periode. (sien rooi lyn in grafiek 1). Tot en met 2000 het dit redelik stadig maar tog stabiel gegroei. Daarna het dit baie skerp gestyg met twee ewe skerp dalings, eers in 2004 en 2005 en daarna weer in 2009 en 2010. In geheel beloop die styging oor die volle periode 332%. Belangrike bydraes tot hierdie stygings kom van mielies (445%), koring (274%), sorghum (650%) en sonneblom (439%).
GRAFIEK 1
TUINBOUPRODUKTE Die volume van tuinbouprodukte het stabiel maar ietwat vinniger as akkerbou gegroei. In geheel was die styging in die tyd 59%. (sien blou lyn in grafiek 2). Daar was slegs geringe afnames in 2005 en 2009. Goeie stygings het egter in 2004, 2008, 2012 en 2013 voorgekom. Die belangrikste produkte wat tot die styging bygedra het is appels - 518 duisend ton in 1994 tot 880 duisend ton in 2013, druiwe - 1,3 miljoen ton in 1994 tot 1,9 miljoen ton in 2013, wyn - 804 miljoen liter in 1994 tot 1,2 miljard liter in 2013 en lemoene - 875 duisend ton in 1994 tot 1,6 miljoen ton in 2013. Die belangrikste groentes was aartappels - 1,3 miljoen ton in 1994 tot 2,2 miljoen ton in 2013 en tamaties - 400 duisend ton in 1994 tot 516 duisend ton in 2013. Enkele kleiner produkte, soos bv. kool, toon 'n afname in produksie. Pryse was ietwat wisselvallig maarhet oor die volle periode baie skerp gestyg, in geheel met 375%. (sien rooi lyn in grafiek 2). Slegs in 2005 het ‘n noemenswaardig daling voorgekom maar daar was skerp stygings in 2002, 2003, 2007, 2009 en 2013. Die stygings is teweeg gebring deur appelpryse wat met 357% toegeneem het, druiwe met 285% en lemoene met 390%. Die gemiddeld markpryse van groente het in die periode met sowat 200% toegeneem.
GRAFIEK 2
VEETEELTPRODUKTE Die volume van veeteeltprodukte het sterk toegeneem oor die afgelope twee dekades met slegs geringe fluktuasies. Die skerpste stygings het voorgekom in 2003, 2005, 2006 en 2010. Die toename oor die volle periode beloop sowat 91%. Onder die vleisprodukte het veral die volumes van witvleis (152%) en skaapvleis (90%) skerp gestyg met varkvleis (79%) ‘n kortkop agter. Die produksie van beesvleis het met sowat 40% toegeneem. Onder die ander produkte het veral eiers sterk gegroei met 'n styging van 128%. Pryse het jaarliks gestyg sonder enige noemenswaardige daling. Goeie stygings het in 1997, 2001 en 2002 voorgekom. In 2006 tot 2008 was die styging elke jaar meer as 10% en in 2011 en 2012 net onder die 10%. Die toename oor die volle periode het 262% beloop. Onder vleispryse was die grootste bydraers skaapvleis wat met 439% gestyg het, beesvleis met 380% en varkvleis met 274%. Die gemiddelde pryse vir witvleis was met die skryf van die artikel nie geredelik beskikbaar nie, maar met die toename in produksie om in die groeiende vraag te voorsien, kan aanvaar word dat dit wel ‘n stewige bydrae gelewer het. Onder die ander produkte het melk met 328% en eiers met 206% gestyg.
GRAFIEK 3
TOTALE LANDBOU Die volume-indeks vir alle landbouprodukte het baie geleidelik gestyg met min skommelinge soos aangetoon deur die blou lyn in grafiek 4 hieronder. In 1996 was die toename vanaf die vorige jaar 20% en in 2008 was dit 10%. Die styging het oor die volle tydperk sowat 60% beloop. Met veeteelt wat byna die helfte van Suid-Afrika se landbouproduksie verteenwoordig, het dit uiteraard die grootste bydrae tot die styging in die volume van landbouproduksie gelewer. Die prysindeks daarteenoor het baie meer wispelturig vertoon. (Sien rooi lyn in grafiek 4 hierbo). Enkele klein dalings het voorgekom met die grootste (byna 10%) in 2005. By ses geleenthede was daar ‘n jaar op jaar toename van meer as 10%. Die grootste toenames was egter in 2002 (28%) en 2007 (22%). Dit totale styging beloop sowat 309%.
GRAFIEK 4
- Die groeimoontlikhede vir akkerbou is uiteraard beperk weens die beperkte beskikbaarheid van bewerkbare grond en is grootliks afhanklik van verbetering in boerderytegnieke. Sommige produkte toon uitstekende groei terwyl ander weens verskeie faktore verswak het. Onder die omstandighede is groei van 10% goed. Tuinbou, wat op baie minder grond 'n baie goeie opbrengs kan lewer het uitstekend gevaar met ‘n groeikoers van 59%. Die bykanse verdubbeling in die volume van veeteelt kan grootliks toegeskryf word aan die steeds stygende vraag na veral witvleis.
- Die prysstygings oor die volle periode is ongeveer 5 keer vinniger as die van produksie nl. 309%. Dit is enorm. Die vraag na sommige produkte, grootliks as gevolg van die groei in die bevolking en die toename in salarisse en lone, het beslis ‘n groot invloed op die stygings in pryse gehad. 'n Ander baie belangrike oorsaak is erge druk wat deur die stygende koste van boerderybenodigdhede veroorsaak word.
BRONNE
- ABSTRACT OF AGRICULTURAL STATISTCS 2014 – www.daff.gov.za/docs/statsinfo/Abstract2014.pdf
- Direktoraat Landboustatistiek van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye.
Kobus Smit is 'n landbou-ekonoom en voormalige voorsitter van die Nasionale Oesskattingskomitee. Kontak hom by diesmitte@gmail.com